Die gemeenskap van Bredasdorp is in oproer nadat ’n 68-jarige man in verband met die verkragting van ’n sewejarige meisie aangekeer is.
Die slagoffer se ouma, wat nie geïdentifiseer mag word nie om die kind se identiteit te beskerm, sê die beweerde voorval het Sondag 13 Februarie naby hul huis in Millpark, Bredasdorp, gebeur.
Die meisie het by ’n vriend gespeel toe die man haar volgens berigte met ’n “stukkie braaivleis” na sy huis gelok het.
Toe sy in die huis kom, het die kind vertel, het hy die deur glo agter haar gesluit, haar na sy kamer gevat en haar na bewering verkrag.
“Haar maatjie se ouers het buite sy huis gestaan en gevra wat maak hy so lank met haar in sy huis. Hy het hulle gehoor en haar laat gaan,” vertel die ouma.
Volgens die vrou was haar kleinkind aanvanklik te bang om haar te vertel wat gebeur het. Sy het toe haar bure gevra om die polisie te bel nadat die kind alles onthul het.
“Die mense wou hom seermaak, maar gelukkig het die polisie gekom en ons is polisiekantoor toe om verklarings af te lê en daarna is ons hospitaal toe,” vertel die ouma.
Dié nag, vertel sy, het haar kleinkind erg koors gehad en niks geslaap nie. “Nou nog, as sy slaap, word sy wakker en dan skree en gil sy,” vertel die ouma.
Volgens die 51-jarige ouma doen gerugte die ronde dat die verdagte reeds voorheen van soortgelyke misdade aangekla is, maar dat dié sake teen hom teruggetrek is.
“Ek gaan nie die saak terugtrek nie,” verklaar sy heftig. “Wie is volgende as ek die saak moet terugtrek? Hy moet gestraf word en in die tronk vrot.”
Adjudant-offisier Jakobus Marthinus, woordvoerder van die Bredasdorp-polisie, het bevestig dat die verkragting Sondag 13 Februarie aangemeld is.
Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in Hermanus ondersoek die saak.
Die 68-jarige verdagte het Dinsdag 15 Februarie in die Bredasdorp-landdroshof verskyn.
Hy sal tot sy volgende hofverskyning Donderdag 24 Februarie in aanhouding bly.
Lede van die gemeenskap beoog om dan met plakkate voor die hof te betoog en te eis dat die verdagte nie op borgtog vrygelaat word nie.