Woensdag (18 Januarie) – toe menige ouer en leerder na die nuwe skooljaar uitgesien het – het die gemeenskap van Botrivier na die skool opgeruk om hul misnoeë oor die toestand van die skool en die verwagting van ’n nuwe skool uit te spreek.
Die betoging voor Botrivier Primêre Skool was vreedsaam en ouers en belanghebbende partye het eers gewag dat alle leerders in die skool is voordat hulle ’n memorandum aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se streekbestuurder van streek 3, Tommy Volkwyn, oorhandig het.
“Botrivier Primêre Skool bars nie net letterlik uit sy nate nie, maar die infrastruktuur van die skool is besig om agteruit te gaan aangesien die skool op ’n vleiland gebou is. Net die skool se stoepe is deur ingenieurs veilig verklaar, maar nie die hele skool nie, en dit lei daartoe dat onderwysers onveilig voel om daar skool te hou,” het dr. Jacobus Syms van Botrivier se skoolreëlingskomitee gesê.
Wat ouers die meeste bekommer, is die feit dat Botrivier Primêre Skool net tot graad 8 gaan en dan moet leerders na buurdorpe gependel word.
Hermanus Times het met van die ouers gepraat en hulle is dit eens dat hul kinders se veiligheid in gedrang is as hulle na ander skole moet gaan. “Ons kinders gaan met busse en taxi’s na skole in Grabouw en Caledon en as hulle te laat is vir die busse en taxi’s, stap hulle tot by die N2 om van daar af na saamrygeleenthede te soek,” het ’n ouer gesê.
’n Ander ouer voel dit is vir hulle deesdae finansieel onmoontlik om hul kinders met alternatiewe vervoer na skole te stuur. “Ons betaal tot R380 vir twee weke vir taxi’s. Ons kan dit nie meer bybring nie, en dan moet ons ander planne maak, en dit skep weer ’n gevaar, want nou ry ons kinders in oorvol bakkies skool toe. Die regering subsidieer ons nie om ons kinders in ander skole te plaas nie.”
Volgens die memorandum ry twee busse na Swartberg Sekondêr in Caledon, twee na De Rust en twee na Umyezo in Grabouw, vier taxi’s ry na Groenberg in Grabouw en een taxi na die Hoërskool Grabouw.
“Met Knoflokskraal, wat by die dag uitbrei, asook Grabouw en Caledon, wat net meer inwoners kry, kry Botrivier se kinders nie meer plek in dié dorpe se skole nie. Dan is daar ook nog ons Xhosa-sprekende inwoners van Botrivier wie se kinders nie die plaaslike skool kan bywoon nie aangesien Botrivier Primêre skool net Xhosa-sprekende leerders van graad een tot vier kan help. Dus beteken dit dat die Xhosa-sprekende leerders nie in hul moedertaal kan skoolgaan nie,” lui die memorandum.
Wat die ouers en inwoners nog meer radeloos maak, is die feit dat ’n stuk grond op 24 Maart 2015 deur die departement openbare werke aan die WKOD toegeken is om ’n skool te bou.
“Dis nou al amper 10 jaar later, en niks is nog gedoen nie,” het Syms gesê.
Volkwyn het by die ontvangs van die memorandum sy dank uitgespreek dat die ouers die leerders in ag geneem en eers gewag het voordat hulle met die optog begin het.
“Ek is in geen posisie om beloftes te maak oor die punte wat in die memorandum gelug word nie, maar ek is wel in ’n posisie om hierdie punte onder die WKOD se aandag te bring. Wat ek vir julle kan sê, is dat ek reeds drie vergaderings met dr. Syms en van die lede op die reëlingskomitee gehad het en ons is besig om planne te maak om die probleme op te los, maar soos julle weet, vat alles maar tyd en dinge gebeur nie vinnig nie. Ons neem die opvoeding van ons kinders baie ernstig op en ek sal dit my prioriteit maak om die memorandum met die regte mense op te neem,” het Volkwyn belowe.