Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek gaan een keer elke maand na die Protea Dienssentrum om ’n boekvoorlesing vir die lede te doen.
Van Wyk het Donderdag (25 Januarie) uit Riana Scheepers se Katriena Vertel voorgelees. Die hoofkarakter, Katriena, se hartstories uit die kombuis is skreeusnaaks en die lede geniet dié voorlesings terdeë.
Daar het ’n groot verrassing op lede gewag toe hulle vroeër vandeesmaand hul gereelde verrigtinge hervat het – die saal waar byeenkomste gehou word, het ’n gedaanteverwisseling ondergaan nadat dit gedurende die reses opgeknap is. Nie net is die saal geverf nie, maar nuwe gordyne is gehang en nuwe matte is gelê.
Marlene Rousseau, die bestuurder van die Protea Dienssentrum, het haar dank teenoor die NG Moedergemeente, wat vir die opknapping verantwoordelik was, uitgespreek.