Ouma se gunstelinge

Daar is twee goed van ’n ouma wat ’n mens nooit sal vergeet nie. Een is haar onvoorwaardelike liefde wat enige klein sondetjie sal vergewe, en tweedens haar tuisgemaakte kos of gebakte happies.


’n Ouma se huis ruik altyd na nog. Dit ruik na die eerste en
laaste happie van ’n melktert, en om die een of ander rede is daar altyd nog
iets wat jy moet proe. Oumas se konstante pogings om ons vet te voer, is iets
wat ons moet waardeer, want net ’n ouma kan soveel liefde in haar kos sit en aandagtig
met ’n koppie koffie sit en kyk hoe jy elke krummel verorber. Vandeesweek deel
ons graag ’n paar resepte wat jy kan probeer as jy na ouma en haar kos verlang.

KARRINGMELK-SKONS

BESTANDDELE

400 g (715 ml) koekmeel

100 g (120 ml) strooisuiker

2,5 ml bakpoeier

2,5 ml koeksoda

3 ml sout

175 g (190 ml) botter, in blokkies gesny

250 ml karringmelk

1 eier, geklits, om bo-op te verf

METODE

Plaas oondrak in middel van oond. Verhit oond tot 220 °C.
Sif meel, strooisuiker, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ’n mengbak. Voeg
botter by en vryf in die meel in totdat dit soos broodkrummels lyk. Maak ’n
holte in die middel van die meelmengsel en voeg die karringmelk by. Meng goed.
Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en maak seker die deeg is lekker
gemeng. Druk plat – sowat 3 cm dik. Druk skons uit met ’n koekiedrukker. Voeg
oortollige deeg saam en druk nog skons uit.

Plaas skons ’n paar sentimeter uitmekaar op ’n gesmeerde
bakplaat. Smeer ’n bietjie geklitste eier bo-op elke skon en plaas in die oond.
Bak 15 – 20 minute. Haal uit en sit warm voor met botter en konfyt.

PAMPOENPOFFERTJIES

BESTANDDELE

250 ml meel

25 ml suiker

10 ml bakpoeier

250ml gaar koue pampoen

1 eier, geklits

50 ml melk.

METODE

Sif meel, suiker en bakpoeier saam.

Voeg pampoen, melk en eier by en meng goed.

Braai lepelsvol in warm olie en dreineer op kombuispapier.

Gooi sous oor poffertjies.

SOUS

1 k suiker

60 ml botter

1 k water

1 k melk

25 ml vlapoeier.

Braai die suiker en botter in ’n kastrol tot goudbruin.

Roer water versigtig by en dan die melk.

Roer aanhoudend totdat die karamel gesmelt is.

Maak die vlapoeier aan met ’n klein bietjie water en roer by
die res van die sous. Roer totdat die sous verdik.

OUMA SE FRIKKADELLE

BESTANDDELE

2 snye bruinbrood

700 g maalvleis

½ k fyngekapte pietersielie

1 fyngekapte ui

¼ t fyn wonderpeper

½ t fyn koljander

¼ t fyn kruienaeltjies

1¼ t fyn neutmuskaat

1½ t sout

3 e wit asyn

1½ k appelkoosblatjang

METODE

Week die brood in water, druk dit uit en krummel dit in die
maalvleis.

Gooi die fyngekapte pietersielie en ui by.

Nou kom die wonderpeper, koljander, fyn kruinaeltjies,
neutmuskaat en sout by.

Voeg die asyn en appelkoosblatjang by en meng liggies in.

Rol frikkadelle, pak dit in ’n oondskottel en maak die kerrie-uiesmoor.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.