“My trane sit weer vlak vanoggend; party dae gaan dit beter as ander …”
Só vertel die ouma van die 16-jarige Romeo Olyn, wat verlede Sondagoggend in Blompark met ‘n mes doodgesteek is (“Derde moord in Blompark”, Hermanus Times, 1 Oktober).
Lena Marsala sê sy het Romeo van babatjietyd af grootgemaak. “Hy is ‘n liewe kind; was nie ‘n moeilikheidmaker nie,” vertel sy hartseer. Volgens sy ouma het Romeo ook nie laat in die strate rondgelê nie en hy was altyd vroeg by die huis.
Romeo, wat ‘n leerder aan Agulhas Vaardigheidskool was, het nie net goed op skool gevaar nie, maar was ook baie gewild onder sy klasmaats. Lena vertel die skoolhoof en van die onderwysers het by haar besoek kom aflê en haar vertel hoe ‘n gehoorsame kind Romeo was en dat sy afsterwe ook vir die skool ‘n verlies is. “Dit maak my hartseer as almal so mooi van Romeo praat; hy is ‘n kind wat diep in my hart lê en ek sal hom nooit vergeet nie.”
Lena vertel ook dat sy elke dag maar vat soos dit kom en party dae gaan dit beter as ander. “Die mense van Blompark ondersteun my baie mooi en ek is baie dankbaar vir die gemeenskap. Ek wil nou net hê dat reg en geregtigheid moet geskied.” Romeo se begrafnisdiens vind Sater-dag 11 Oktober plaas.
Intussen het ‘n ooggetuie Hermanus Times gekontak en vertel hy het saam met Romeo geloop toe die voorval gebeur het. “My oupa het my kom inlig dat my ouma vir ons geld het en Romeo het saam met my na my ouma se huis geloop. Ons was heel rustig en by my ouma se huis het die aanvaller Romeo van agter met ‘n mes in die rug gesteek. Ek het weggehardloop toe die verdagte my met die mes dreig en gesien hoe Romeo op die grond val. Die man het Romeo, toe hy op die grond lê, verder gesteek. Dit was nie lekker om te sien nie.”
Die verdagte het verlede Dinsdag in die Hermanus-landdroshof verskyn. Sy saak is toe tot 7 Oktober vir ‘n borgtogaansoek uitgestel en is Dinsdag tot 22 Oktober uitgestel.
Volgens John Jacobs, gemeenskapsleier, was die oorledene sowel as die verdagte se familie by die hof. bygewoon.Volgens wat verstaan was is dat die verdagte se regverteenwoordiger die aansoek op die 22ste sal bring namens die verdagte. “Ons het ‘n petisie opgestel wat ons aan die ondersoekbeampte gaan oorhandig. Ek wil ook graag ‘n beroep op die gemeenskap doen om nie die ondersoek te kniehalter deur valse bewerings te maak nie,” aldus Jacobs.
Die familie en gemeenskap wil graag die ondersoekspan bedank vir dit wat hulle doen.
• Intussen het die 18- en 21-jarige verdagtes wat Ricardo Tobias in Maart na bewering wreed vermoor het, Vrydag (3 Oktober) in die hof verskyn. Nadat die staat die petisie van die gemeenskap in ag geneem het, is geen borgtogaansoek toegestaan nie. Die verdagtes se prokureurs wou die petisie betwyfel, maar na aanleiding van vorige veroordelings is die borgtogaansoek van die hand gewys.
“Die familie is op soek na geregtigheid. Ons is nie daarop uit om die twee verdagtes te veroordeel nie. As hulle nie die moord gepleeg het nie, moet hulle ons vertel wie vir die die grusame moord op Ricardo verantwoordelik is,” het Jacobs gesê.
Didi Claassen, ‘n niggie van die oorledene, stem saam en wil graag hê die skuldiges moet aangekeer word. “Ons is nie moeiliheidmakers nie. Die Tobiase is vredeliewende en Godvresende mense. As die verdagtes dan nie die moord gepleeg het nie, moet hulle sê wie dit is, want nou word die hofsaak net elke keer uitgestel,” het sy gesê. Volgens haar wil hulle hê Blompark moet weer die veilige buurt word “wat dit van ouds was”.




