Met ’n matriekslaagsyfer van 81,55% is die Overberg een van die distrikte wat die beste in die Wes-Kaap gevaar het.
Dié syfer het met 1,11% gestyg.’n Aantal skole in die distrik, onder meer privaat skole soos Northcliff House College, Generation Schools Hermanus en Curro Hermanus, spog met ’n 100%-matriekslaagsyfer.Hoërskool Hermanus is een van die skole wat dié noemenswaardige prestasie behaal het.
Nanette Ras, Hoërskool Hermanus se bemarker, berig dat die skool ook uiters trots is op die feit dat 132 van die 152 leerders wat die matriekeindeksamens afgelê het, met universiteitstoelating geslaag het en 186 matrikulante wat onderskeidings in vakke behaal het.“Dit is weer eens ’n duidelike aanduiding van die gehalte van onderrig wat die skool bied,” het sy bygevoeg. Altesaam 19 Hermies spog met A-gemiddeldes. Hulle is: Vion Wium (91,8%), Caleb Riordan (90,7%), Kara Slabbert (90%), Helena Nolte (89,2%), Kirsten Koen (88,7%), Mikhael van Baalen (88,4%), Shonay Oelofse (87,3%), Kirsten Sutherland (86,7%), Jordan Theron (86,2%), Naude van Dyk (86%), Hanno Scheepers (85,3%), Nielen Seldte (84,7%), Mia le Roux (83,5%), Mieke Ludek (82,7%), Chwayita Mananga (82,3%), Misha Horn (81,5%), Kian Carstens (80,7%), Francois Theron (80,3%) en Shannon Moody (80%).Vion Wium is die skool se toppresteerder met Caleb Riordan in die tweede plek en Kara Slabbert derde.“ Hoërskool Hermanus wil graag die ouers en die skoolbeheerliggaam bedank vir hul ondersteuning. Daarby wil die skool veral die onderwysers bedank vir hul toewyding en die feit dat hulle ver meer doen as wat van hulle verwag word,”sê Ras.
Hoërskool Bredasdorp het ’n matriekslaagsyfer van 99% en 88,88% van die kandidate het met universiteitsvrystelling geslaag. Die skool se topstudent, George de Kock, se harde werk en toewyding is beloon met ’n A-gemiddelde van 87,83% en A-simbole in agt vakke: Afrikaans Huistaal (85%), Engels FAL (85%), wiskunde (85%), besigheidstudies (94%), IT (86%), fisiese wetenskap (86%), rekeningkunde (92%) and LO (85%).Marnél Retief (85,17% ) en Fatoumar Diop (84,83%) het ook die skool se naam hoog gehou met hul A-gemiddeldes. Retief het ook A-simbole in Afr HT (86%), Eng HL(85%), besigheidstudies (93%), verbruikerstudies (84%), lewenswetenskappe (84%) en lewensoriëntering (94%) en ’n B-simbool vir wiskunde (79%), behaal. Diop het vyf A-simbole in Afr Eerste addisionele taal (92%), wiskundige geletterdheid (89%), verbruikerstudies (83%), toerisme (91%) en LO (81%) en twee B-simbole – Eng Huistaal (77%) en LW (77%) – behaal. Altesaam 18 leerders het met B-gemiddeldes en 34 met C-gemiddeldes geslaag.Lucille Poole, Hawston Sekondêr se nuwe hoof, berig dat dié skool se slaagsyfer met 0.1% van 75,7% in 2020 tot 75,8% in 2021 gestyg het. Die skool se toppresteerders is Kay Ree Julies (72.7%), Chad Harmse (69.9%), Kaylin Africa (68.6%), Bernito Kapot (66.6%) en Lileete Esau (64,7%). Ruby Dunsdon, sê Poole, verdien om uitgesonder te word aangesien dié leerder ten spyte van ernstige gesondheidsprobleme wat veroorsaak het dat sy baie afwesig was, uitgestyg en geslaag het.
“Ten spyte van dié uitdagings het sy deur die pyn gedruk en baie hard gewerk om haar werk op datum te hou. Sy was aangeraai om liewer op haar gesondheid te fokus en dan die volgende jaar haar matriekeksamen te skryf. Sy het egter geweier en het met haar ma en onderwysers se hulp deurgedruk, eksamen geskryf en geslaag,” vertel Poole.