Dit is Saterdag ‘n groot dag vir die twee topspanne van die Overberg, Botrivier en Safcol van Grabouw.
Botrivier pak Villagers van Worcester Saterdag om 15:00 op Botla se tuisveld terwyl Saffies ook om 15:00 verlede jaar se kampioen, Robertson Town, takel. Daar was ook groot omstredenheid rakende die wedstryd tussen Safcol en Robertson aangesien Robertson die naweek in die Pick n Pay Gold Cup-toernooi teen die span van College Rovers-rugbyklub te staan sou kom.
“Te danke aan die ingryping van die Boland-rugbyunie se president, Bennie van Rooi, en ná samesprekings met die verskillende rolspelers, kan Robertson-rugbyklub nou in albei kompetisies deelneem en met hul beste beskikbare spelers speel. Ons wil Roberteson baie sterkte toewens met hul taak Sondag wanneer hulle die Boland-rugbyunie se vaandel sal dra,” het die BRU op sy Facebook-blad bekend gemaak.
Rugbyondersteuners is nie almal so positief oor die verwikkelinge nie en volgens ‘n anonieme bron voel hy dat die ligaverpligtinge en die uitspeelwedstryde vroeër moet begin aangesien dit elke jaar dieselfde probleem is. “Robertson Town is Boland se ambassadeur by die Gold Cup. Nou moet hulle twee wedstryde oor ‘n naweek speel. [Die betrokkenes] moet toesien dat beter beplanning in die toekoms gedoen word,” het hy gesê.
Facebook het ook gegons: “Elke jaar bots die Gold Cup met die Top-12. Hoekom kan die ligakompetisie nie vroeër begin nie? BRU kan regtig beter reëlings tref.”
Ander voel weer die Top-12-wedstryd moet na die middel van die week verskuif word om die spelers kans te gee om te rus.




