Dit is duidelik dat die room van Boland-rugby uit die Overberg kom, want daar is altyd spanne van die Overberg in die Boland-kompetisies se uitspeelwedstryde en verlede jaar was Safcol, die span van Grabouw, die Boland-kampioen in die Grootuitdaagreeks.
Maar die afrigters en spelers is dit eens dat dit harde werk is om dit te kan bereik en danksy voorafwedstryde soos die Overberg-uitdaagtoernooi in Caledon, wat deur Nissen Holdings aangebied is, kan die spanne vir die Boland-kompetisies voorberei.
Die Overberg-toernooi, wat vanjaar die tweede jaar aangebied is, is op 20 Januarie bekend gestel en die toernooi gaan op 24 Februarie in Caledon plaasvind.
Die spanne wat die dag in aksie gaan wees, is Safcol, Hawston, Bredasdorp, Caledon, Riviersonderend en Kleinmond.
Tydens die bekendstellingsgeleentheid het een van die sprekers, Keith Hendricks, ’n bekende in rugbykringe en ook ’n voormalige voorsitter van die WP-skeidsregtersvereniging, die oud-president van Suid-Afrika, Nelson Mandela, se woorde aangehaal: “Sport has the power to change the world; it has the power to inspire; it has the power to unite people in a way that little else does. Sport can create hope where once there was only despair.”
Volgens hom gebeur die dinge nie vanself nie en dit verg alles harde werk. “Dis waarom ek Nissen Holdings wil gelukwens, want hulle dra by dat sport mense byeenbring,” het hy gesê.
Die prysgeld is – net soos verlede jaar – nie te versmaai nie en die wenspan loop weg met R40 000 en die gratis uitsaai van vyf tuiswedstryde. Die naaswenners wen R15 000 en die gratis uitsaai van een tuiswedstryd terwyl die derde plek R10 000 wen en die vierde plek ’n geldprys van R5 000.
Die eerste wedstryd tussen Hawston en Caledon vind om 11:00 plaas en die tweede wedstryd tussen Safcol en Bredasdorp Rangers vind om 12:00 plaas. Voordat die uitspeelwedstryde gaan plaasvind, speel die twee uitnodigingspanne, Riviersonderend en Kleinmond, om 13:35 teen mekaar.
Kaartjies is op die dag by die Victoria-saal in Caledon beskikbaar: volwassenes R30, kinders R20 en vir parkering R10.. Twee klubspelers wat veral naam gemaak het tydens die Grootuitdaagreeks, Mouhamed Diop, ’n stut van Hawston Skrik vir Niks, en die woelige skrumskakel van Safcol, Jason Beukes, is albei kontrakte by die Boland-Kavaliers aangebied.
Volgens Branden Hunter, die kaptein van Hawston Skrik vir Niks, het Diop dadelik by die span aangepas toe hy in 2023 by SVN aangesluit het. “Hy het verlede jaar by ons aangesluit en gemaklik by ons spankultuur aangepas. Hy het egter in die Top-12 naam gemaak waar hy dadelik sy stempel afgedruk het toe ons teen die beste spanne in die liga gespeel het,” sê Hunter.
“Sy respek vir die spel staan baie uit; hy is altyd gewillig om nuwe dinge aan te leer, is ’n gedissiplineerde rugbyspeler, is altyd betyds vir oefeninge en werk baie hard op die veld. Dit het nou vir hom vrugte afgewerp. Ek weet hy gaan by die Boland-Kavaliers uitblink en sal gou daar aanpas en altyd sy beste vir die span lewer. Ek wens hom alle voorspoed toe met sy rugbyloopbaan en bid en vertrou dat hy ’n sukses daarvan sal maak.”
Safcol het Jason op hul Facebook-blad sterkte toegewens vir sy nuwe uitdaging.