Die twee spanne wat die Overberg in die Boland-Top-12 verteenwoordig – Safcol van Grabouw en Caledon – is boaan die punteleer in hul onderskeie groepe.
Caledon is eerste in Groep A met 15 punte, met die span van Worcester, die Villagers, in die tweede plek. In Groep B is Safcol ook boaan die punteleer met 15 punte met Robertson in die tweede plek met 12 punte.
Caledon het Saterdag skouspelagtige rugby gespeel en sy agterlyn die geleentheid gegee om met die bal te hardloop. Die goeie samespel van die spelers het ook daartoe bygedra dat Caledon korte mette met die Vanrhynsdorp Eagles gemaak en die wedstryd maklik 61-17 gewen het.
Saterdag speel Caledon teen Villagers van Worcester. Villagers is net soos Caledon onoorwonne in sy groep en met Caledon wat na Boland-stadion moet reis, gaan dit ’n moeilike taak vir die Overberg-span wees om Villagers daar te klop.
Saterdag het Safcol weer soos in sy vorige twee wedstryde net-net die knoop deurgehak en Darling 38-35 gewen. Net soos in die verlede was dit ’n taai stryd en Saterdag moet Safcol alles in die stryd werp om die Young Spurs van Paarl te wen. Gelukkig het Safcol ’n tuisveldvoordeel en met die Saffies-ondersteuners wat na die stadion gaan stroom, gaan dit vir Young Spurs moeilik wees om te wen.
Die Boland-rugbyunie het ook na die omstrede drie van Safcol verlede week teen Saldanha – waar dit duidelik was dat die vleuel van Safcol, Andrin Mepomie, die bal voor die doellyn aangeslaan het – ’n persverklaring oor die beslissing uitgereik.
Die BRU sê ná gesprekke met die betrokke skeidsregter, Donovan de Klerk, is beslis om nie die berugte “doel” aan Safcol toe te ken nie.
“Die unie het ook aangekondig dat De Klerk vir die volgende twee weke nie in enige Top-12-kragmetings sal blaas nie. Safcol het Saldanha 27-25 in die tweede uitspeelronde van vanjaar se Top-12-toernooi geklop,” het die persverklaring gelui.
Safcol het op sy beurt weer gesê hy wil graag die BRU en De Klerk bedank vir die wyse waarop hierdie aangeleentheid hanteer is. “Ons skeidsregters is mense wat foute maak – nes ons. Hulle lewer ’n onbaatsugtige diens en ons moet hulle kan ondersteun – veral wanneer hulle erken hulle het ’n fout begaan.
“Ons wil hiermee ook al ons ondersteuners vra om ons skeidsregters te ondersteun en hul besluite te respekteer,” het die persverklaring gelui.

