Een dorp, een veld, twee spanne en twee kampioene. Dit is hoe die Overberg voel nadat twee spanne van Hermanus, Atlantics en die Walkerbay Babes, die afgelope naweek as die Super-8- en Super-16-kampioene gekroon is.
Die twee onoorwonne spanne, wat albei op Atlantics se veld oefen, is baie trots op hierdie prestasie en die vreugdevure gaan nog lank brand. Die eindstryde, wat in Wellington in die Boland-stadion gespeel is, was taai en is in snikhete weer gespeel waar die temperatuur 36 °C was. Ongeveer 9 000 toeskouers het na die twee spanne van Hermanus gekyk.
In ‘n eindstryd waarin die span van Mount Pleasant, Atlantic, teen die span van die Swartland (Koringberg) gespeel het, was dit Atlantics wat van die begin af die oorhand gekry en sommer kort voor lank die drieë begin inryg het. Met rustyd is gewis hard in die kleedkamers van Ko- ringberg gepraat en Atlantics-ondersteu- ners het op die punt van hul sitplekke gesit toe Koringberg met ‘n aanslag teruggeveg het. Maar dit was te laat, want Atlantics het gewys waarom hulle die hele jaar onoorwonne was en het die wedstryd 32-24 gewen om as die Supe-16-kampioen gekroon te word.
Ná die oorwinning van Atlantics het die ondersteuners bankvas agter nog ‘n span van Hermanus, die Walkerbay Babes, gestaan, wat teen Central Wolves te staan gekom het. Al was dit ‘n klipharde wedstryd, was daar “net een span op die veld”. Walkerbay het met twee vinnige drieë voorgeloop, maar Central Wolves het teruggeveg. In die tweede helfte het Walkerbay die krane oopgedraai en die Wolves kon nie byhou nie en Walkerbay het die Super-8-titel uiteindelik met 63-21 gewen.
Dit is die vyfde keer dat hulle dié titel met trots dra. Die vroue het ook geskiedenis gemaak, want sedert Walkerbay se bestaan het hulle nog nie ‘n wedstryd of trofee verloor nie.






