Drie mans van die Overberg, onder wie ’n senior wetstoepassingsbeampte en ’n bekende bouer, het Dinsdag (11 Junie) saam met nog ander vermeende lede van ’n perlemoensindikaat in die George-streekhof verskyn.
Marius Robyn Hendricks (50), Jacob “Japie” Arendse (56) en Magnon Swartz (56) van die Overberg tesame met hul mede-beskuldigdes Jianxian Wu (49), Jerome Jacobs (51), Francois Visser (46), Danny Ralph Marais (65), Koobadran Naidoo (62) en Kaiden Logistics CC staar altesaam 77 aanklagte in die gesig. Dit sluit aanklagte in wat met die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (POCA) sowel as die onwettige berging en vervoer van perlemoen en die onwettige bedryf van ’n visverwerkingsaanleg verband hou.
Sewe van die verdagtes is Maandag (10 Junie) tydens ’n optrede, wat deur die Valke gelei is, in hegtenis geneem. Wu is in Mei in Brits in die Noord-Wes-provinsie in hegtenis geneem en het op 21 Mei die eerste keer in die George-streekhof verskyn. Hy het Dinsdag saam met sy mede-beskuldigdes in die hof verskyn.
Die saak teen Naidoo, Jacobs, Swartz, Hendriks, Visser, Arendse, Marais en die maatskappy is tot 14 Junie vir ’n borgaansoek uitgestel. Wu sal tot 24 Junie in aanhouding bly wanneer hy om borgtog sal aansoek doen.
Zinzi Hani, ’n woordvoerder vir die Valke, berig die saak teen die beweerde sindikaat, wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap en Gauteng bedrywig was, spruit uit 12 verskillende voorvalle waartydens op altesaam 25,3 ton perlemoen met ’n geraamde waarde van meer as R37 miljoen beslag gelê is.
In een van die voorvalle wat teen die beweerde sindikaat ondersoek word, is in Mei 2016 op ’n plaas naby Greyton op meer as 2 000 gedroogde eenhede perlemoen sowel as toerusting wat gebruik is om die perlemoen te droog, beslag gelê. Tydens dié klopjag deur die Valke en die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) se spesiale ondersoekeenheid is twee Chinese mans ook in hegtenis geneem. Dié mans is kort daarna gevonnis nadat hulle ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Volgens Hani staar die verdagtes wat Dinsdag in die hof verskyn het, ook aanklagte van geldwassery, die bestuur van ’n misdadige onderneming deur ’n patroon van rampokkery en die onwettige uitvoer van perlemoen in die gesig.