Botrivier se speler van die wedstryd, Tyron Roberts, met sy prys.

D ie twee Overbergspanne Safcol en Botrivier het ná ‘n swart naweek verlede week hul ondersteuners weer hoop gegee toe hulle die afgelope naweek wegholoorwinnings tydens die Sanlam-Boland-Top-12-kampioenskap aangeteken het.

Safcol, wat tuisveldvoordeel gehad het, het Delicious maklik 76-24 gewen. Bousandpark, soos Grabouw se sportterrein bekend staan, was nie ‘n

lekker plek vir Delicious om te speel nie. Saffies het die oorhand van die begin van die wedstryd af gehad en selfs in die skrums kon Delicious nie juis hul man staan nie. Saffies se ondersteuners is nie teleurgestel nie, al het Delicious in die eerste paar minute aanvallende rugby gespeel. Slegte besluite en doellose skoppe van Delicious het Safcol egter balbesit besorg, wat hom op die aanval gesit het en Safcol se Cameron Julies het ná die eerste vyf minute agter die doellyn gaan kuier. Ná 15 minute het Safcol se flank Heinrich Claassen ook vir ‘n drie oorgeduik nadat Safcol die bal by ‘n lynstaan reg by Delicious se doellyn ingegooi het.

Delicious se doellose skoppe – wat nie die kantlyn kon haal nie – het veroorsaak dat Safcol twee minute ná sy tweede drie weer agter die doellyn gaan draai het. Saffies het in die 22ste minuut die doellyn weer met ‘n goeie agterlynbeweging oorgesteek.

Halftyd het Saffies 31-14 voorgeloop, maar daarna het hy die krane oopgedraai en met goeie samespel tussen die voor- en agterspelers het die manne omtrent agter Delicious se doellyn gaan kamp opslaan.

Safcol is nou derde op die punteleer van Groep B met ses punte en speel Saterdag teen Saldanha in Saldanha. Die topspan in die Overberg, Botrivier, het Saterdag met Vanrhynsdorp ook maklik afgereken en 52-24 gewen. Botrivier se voorspelers was net te sterk vir Vanrhynsdorp en die besoekers het danksy goeie samespel die een drie ná die ander ingeryg. Tans is Botrivier derde op die punteleer van Groep A met ses punte. Roses United is eerste met 10 punte en Wesbank tweede met sewe punte. Botrivier sien uit na sy wedstryd Saterdag teen Wesbank. Botrivier, wat verlede week nog ‘n swaard oor sy kop gehad het oor vals gerugte wat die ronde gedoen het – dat sy afrigter bedank het – gaan al sy kragte inspan om sy tuisskare tevrede te stel en sy teenstanders se monde te smoer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article