Die Overstrand-onderburgemeester Lindile Ntsabo en Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse parlement, het van die gaste bedien. Foto: Bianca Du Plessis


Bejaardes van Hawston en Mount Pleasant het verlede week behoorlik gesmul by ’n spesiale ete wat deur die speaker van die Wes-Kaapse parlement, Masizole Mnqasela, gehou is.

Mnqasela, wat ook die hoof van die DA se Overstrand-kiesafdeling is, het saam met die Overstrand-raadslede Elnora Gillion, Arnie Africa en Ronald Nutt, Overstrand se onderburgemeester, Lindile Ntsabo, en die ODM-raadslid Archie Klaas ingespring om die gaste self te bedien.

Die doel van die geleentheid, het Mnqasela verduidelik, is om waardering te betoon aan bejaardes vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing speel.

“Ons taak is om julle te koester en uit jul wysheid en raad te leer. Mense wat nie die ouer garde respekteer nie en van hulle steel of hulle mishandel, sal deur God gestraf word,” het hy bygevoeg.

Gillion het dit beaam en gesê: “Dankie vir wat julle in ons lewens belê het. Dit is deur julle gebede, harde werk en ondersteuning dat ons is waar ons vandag is.”

Mnqasela het aangekondig hy beoog om die ete ’n jaarlikse instelling te maak waarby bejaardes van ander dorpe in die Overstrand ook betrek sal word.

Hy het afgesluit deur die gehoor te maan om steeds waaksaam te wees om te verhoed dat hulle die koronavirus opdoen.

Stoffel Kees, ’n bekende musikant van Hawston, sowel as die Griekwa-kerkkoor het by die geleentheid gesing.

Die speaker het ook later die middag as deel van sy “War against Hunger”- veldtog kospakkies by ’n sopkombuis in Hawston uitgedeel.

You need to be Logged In to leave a comment.