’n Groot eer het die Overstrand-munisipaliteit (OM) te beurt geval toe die streek saam met Kisumu, Curitiba, Istanbul, Mendoza en Barranquilla gekies is om deel van die Verenigde Nasies (VN) se “Generation Restoration”-projek te wees.
Tydens Wêreldomgewingsdag, wat die jaar op 5 Junie gehou is, is op die herstel van grond gefokus en tesame met die fokuspunte het die VN se Omgewingsprogram ook ses nuwe gebiede oor die wêreld heen aangewys wat gekies is om deel van die projek te wees.
In die Overstrand is dit veral die Onrusrivier-opvangsgebied wat omgewingsbewustes na aan die hart lê. Volgens die munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, Dean O’Neill, vervul die Onrusrivier-opvangsgebied ’n belangrike rol in die welstand van die plaaslike inwoners asook die ekostelsel. “Met die vleilande se toekoms wat in die weegskaal is, beoog ons by die OM om ’n holistiese benadering tot die rehabilitasie en bewaring van die Onrusrivier te volg. Deur die opvanggebied te rehabiliteer, sal dit waterbronne beskerm, biodiversiteit bewaar en die uitwerking wat klimaatsverandering op die natuur het, verminder,” het O’ Neill gesê.
Die OM-burgemeester, dr. Annelie Rabie, het ook bevestig dat die Onrus Catchment2Coast River-rehabilitasie-en-restourasieprojek, wat as deel van VN se omgewingsplan (UNEP) se “Generation Restoration”-projek van stapel gestuur is, is ook deel van die OM se 2022-’27- geïntegreerde ontwikkelingsplan. “Omgewingsbewaring is van kardinale belang aangesien dit ’n groot rol in die voorkoming van natuurrampe speel asook ’n bydrae tot die sosio-ekonomiese welstand van die omgewing lewer. Daarom is dit noodsaaklik dat die projekte voldoende gefinansier moet word,” het Rabie gesê. ‘Generation Restoration’-projek
Volgens die VN se webwerf is die doel van die “Generation Restoration”-projek om maatreëls daar te stel om die politieke, tegniese en finansiële uitdagings die hoof te bied om sodoende die ekostelsel, wat deur verstedeliking beïnvloed is, te herstel.