Mans- en vrouerugbyspanne van die Overstrand- en Theewaterskloof- munisipale gebiede het mekaar Saterdag op Erfenisdag die stryd aangesê in die eerste wedstryde van die Burgemeestersbeker-rugbyreeks.
Die spanne van Overstrand het TWK se spanne behoorlik laat les opsê. Die OM-mansrugbyspan het ’n wegholoorwinning van 107-3 behaal. Die vrouerugbyspan van die Overstrand het ook geseëvier – met ’n telling van 29-17.
Die vrouerugbyspanne was eerste aan die beurt. TWK se span het bestaan uit spelers van Grabouw, Villiersdorp, Caledon en Genadendal. Overstrand se spelers was van Stanford, Gansbaai, Hermanus Hawston en Kleinmond.
Mitchell Felix, wat die TWK saam met Carolishia Fisher (Boland se vrouerugbykaptein) afrig, sê hoewel hul span verloor het, is hulle uiters trots op die spelers wat verlede week vir die eerste keer as ’n span saam geoefen het.
Albei spanne het ervare spelers gehad, onder wie Ayakha Soga en Zena Swart van die Overstrand, wat albei vir die o.20 SA vrouerugbyspan speel. Debra Fredericks van TWK was in 2019 een van Boland se beste o.18-spelers, Donnay Felix het vir Boland se o.15- en o.16-spanne gespeel en Cassia Julius was onder die beste o.16-spelers in 2019.
Overstrand het die eerste punte – ’n verdoelde drie – binne die eerste vier minute aangeteken. Cassia Julius, TWK se regtervleuel, het daarna twee drieë vir haar span aangeteken.
TWK se losskakel, Debra Fredericks, het die eerste doelskop oorgeskop.
TWK het teen halftyd 12-7 voorgeloop. Overstrand het drie drieë aangeteken, waarvan twee verdoel is.
Julius moes die veld met ’n skouer-besering verlaat. TWK het weer gou momentum gekry en Donay Filies (skrumskakel) het ’n solodrie gedruk nadat sy van die kwartlyn af steelkant om beweeg het om in die hoek te druk.
Overstrand se afrigter, Maxine Valentine, het in die tweede helfte vir Theresa Ruiters opgestuur nadat Ayakha Soga beseer is. Soga is toe na heelagter verskuif.
Overstrand het knaend aangeval en twee drieë gedruk. Die eindtelling was 17-29 in Overstrand se guns.
Tyra Brett en Theresa Ruiters het elk vyf punte vir die Overstrand aangeteken, Zena Swart het twee drieë gedruk en Lee-Ann Yman het een drie en een doelskop aangeteken.
In die mans se wedstryd het Overstrand sy teenstaanders behoorlik in die stof laat byt. TWK se span kon net nie deur Overstrand se verdediging breek nie en kon slegs daarin slaag om drie punte aan te teken.
Wesley Spandiel het drie drieë vir die Overstrand gedruk terwyl Brendan-Lee Dickson, Joshwin October en Keanon Mitchell elk twee drieë aangeteken het.
Ian Cornelius se skopskoen was sekuur en hy het altesaam nege doelskoppe oorgeskop. Cornelius het ook een drie gedruk. Hy het dus altesaam 23 punte vir Overstrand aangeteken.
Wiseman Hendricks, Cameron Plaatjies, Macnolan Spandiel, Ralph-Vino Richter, Marvin Benjamin, Bijon Abrahams, Lionel April en Deuston Oliver het ook elk vyf punte vir die Overstrand aangeteken.. Vroue wat in die TWK-gebied woon en graag by die vrouerugbyspan wil aansluit, kan Mitchell Felix by 072 379 0071 bel vir besonderhede oor die klub en hoe om aan te sluit.