“Gure bibberweer het die afgelope week gekom en gegaan, maar aan die Overberg slegs wel gedaan,” sê Langfaan. En om sy vrolike rympie af te rond, voorspel hy die Wes-Kaap se winter is besig om te taan.  

Buurman sê hy kry te koud om Langfaan se stuitigheid te geniet. Hy sit in die Cederberge by broer Janneman en bibber in rympies. Maar hy stem saam met Langfaan dat verlede naweek se stormweer ‘n draaipunt van die seisoen was.  Die blessit koue weer  moet nou net wyk.

 Op ’n meer ernstige noot sê Buurman ook by nadenke die koue lugstroom wat die land getref het, het oor derduisende kilometer reguit van die Suidpool af ingesuig na ons vasteland toe waar daar geen hoogdrukke in sig was om te keer nie.  Waar dit die warmlug aan die Ooskus getref het, het die wolke toe laag gedaal en die sneeu grond toe laat val.

In die Kaapse Wynlande, waar  alles volgens ‘n boer klopdisselboom gaan, het die reëbuie net betyds padgegee en alles is op dreef vir ‘n goeie oesjaar ten spyte van kelderbestuurders wat naels kou oor hoe om alles te hanteer met groot voorrade in die kuipe, wat nog vir die wynmark gehanteer moet word.

Die wêreldprentjie lyk egter nie so mooi nie, reken Langfaan. Die verwagting is dat die heftigheid steeds toeneem en dat sy siening oor die komende somer nie goeie nuus vir Suid-Afrikaners is nie.  Soos hy verlede jaar voorspel het, kom groot moeilikheid vir die somerreënvalgebiede.

En dit alles terwyl Overstranders, baie bederf deur hul ongewone anderse klimaat, maar net van storms en skade elders bewus is.   Terwyl die res van die land se temperature snags rondom vriespunt draai, sit die Overstranders rustig “in die sonnetjie op die stoep” met temperature rondom 14 °C en 15 °C; 9 °C is die laagste wat dit die komende week sal daal. Selfs in vanoggend (Donderdag) se ysige reëntjie van sowat 3  mm sal dit vanaand en  snags nie laer as 9°C daal nie.

Ook volgende week (tot ons Donderdag weer gesels) sal die temperature rondom 14 °C tot self 18 °C styg. Môre en Saterdag skyn die son vol en selfs Sondag wanneer die wolke weer dreig, kan Overstranders boonop langerige sonskynuitstappies reël en met die verslapping van die inperkingsregulasies, kan daar selfs ‘n toeloop van besoekers verwag word, wat ‘n welkome stuiwer in die armbeurs van ons sakemanne sal plaas, sê Langfaan.

 

You need to be Logged In to leave a comment.