’n Groot groep leerders en ouers het Vrydag 19 Januarie op ’n snikhete dag gretig gewag vir Johan Jacobs, die hoof van die Hoërskool Overberg in Caledon, om op die balkon te verskyn om die 2023-matriekuitslae bekend te maak.
Nie net het Ovies sy trotse tradisie van ’n 100%-slaagsyfer voortgesit nie, maar die skool is ook aangewys as die topskool in die Overberg-onderwysdistrik.
Van die 87 leerders wat die 2023-matriekeksamen afgelê het, het 77 leerders baccalaureus-toelating verwerf en 77 het A-gemiddeldes behaal.
Jacobs het aan Hermanus Times genoem dat hy baie trots is op dié matriekgroep, wat baie uitdagings oorkom het om suksesvol te wees.
“Dit was ’n moeilike jaar. Daar was geweldig baie beurtkrag en dan was daar die oorstromings in September, wat ’n groot uitdaging ingehou het om leerders by die skool te kry en in die koshuise te huisves,” het Jacobs gesê.
“Die leerders en die onderwysers het ongelooflik hard gewerk en daar was natuurlik ook die ondersteuning van die ouers.
“My hart gaan uit na die topleerders wat nie so goed presteer het soos wat ons gehoop het nie, want daar was ’n paar baie moeilike vraestelle.”