Die reusefront wat ons tien
dae gelede so skrikgemaak het en waarvan toe nie veel gekom het nie, is soos
die spreekwoordelike kat wat kleintjies gekry het. Sedert die langnaweek is dit
hoogdrukke net waar jy kyk.

Dinsdag was daar egter tekens
dat die suidwestelike gedeelte van die Arktika geweldig baie koue lug produseer
en dat van dié koue ‘n laagdruk vorm wat na die ewenaar toe beweeg. Op die
oomblik is die kouefront egter nog nie binne bereik van enige hoogdrukke nie en
dit kos kopkrap (of raai) om te bepaal wat vorentoe vir ons wag.

Wat
egter uitstaan, is die gewone patroon in so ‘n situasie; beslis baie min wolke
en volop sonskyn.  Veral in die Suidwes-Kaap en die Overberg-omgewing
is daar ongetwyfeld geen teken van reënwolke voor 3 Mei nie. Die rekenaar dui
op sowat 12mm-neerslag vanaf Saterdagnag tot Sondagmiddag, waarvoor ons ‘n
matige westewind moet bedank.Teen die aand se kant sal die hoogdruk aan ons
ooskus skielik die gees gee en koue lug uit die suide intrek wat die
temperature heelwat onder 20 °C sal hou.

Dit
alles is tipies van die aard van die draai van seisoene na die
winterreënvaltydperk toe.  En dit is ook nie heeltemal soos ou inwoners
van die Overstrand aan gewoond is nie, waarsku Langfaan.  Dit beteken in
‘n neutedop dat die weer in die weke wat voorlê redelik onstabiel sal wees,
waarsku hy. 

Veral
die bolug bly onstabiel en ‘n noordewind wat Dinsdag  inkom, suig
klammigheid uit die weste in. Dan kan ons ook nog ‘n paar druppels oor die
Overstrand verwag. Dit  hou net vir die dag, voor die warm oostewind weer
met sy nukke begin, maar die temperatuur sal steeds nie oor 20 °C wees nie. Langfaan
bly onrustig oor die geheelbeeld en die wêreldwye angs oor
klimaatsverandering.  Dit is duidelik dat die huidige situasie van minder
besoedeling tydelik is.  Hy kan nie dink dat hy ooit in sy 45 jaar in
die weerkunde sulke vreemde toestande probeer ontleed het nie.

Buurman is minder swartgallig
en reken die Overstrand is die veiligste plek op die planeet. Wanneer dit oral
woes en droog gaan, soos die doemprofete soms waarsku, maak die Overstranders
tuin dat dit klap.

Lesers met groentetuintjies wat reeds “klippe kou” deurdat daar nie saailinge
beskikbaar is nie, moet maar vroegtydig beplan vir wintergewase.  Dit
is veral spinasie wat nou oral moeilik bekombaar is.   

You need to be Logged In to leave a comment.