Boewe het toegang gekry deur aan die kant van die gebou in te breek.


KLEINMOND – Een van dié dorp se geliefste pandjieswinkels is op 6 April gevandaliseer en sekere artikels is gesteel.

Victor Lovkis, eienaar van Vic’s Trading wat al 16 jaar bestaan, sê die winkel was gesluit om te voldoen aan die regering se regulasies. Hy vermoed die inbraak het Maandag 6 April plaasgevind toe die buurman langs die winkel ’n groot lawaai gehoor het. Lovkis het eers Woensdag 8 April ontdek daar is by sy winkel ingebreek.

“Ek was besig om goed in en om die huis reg te maak toe ek winkel toe moes ry om ’n stuk plank te gaan haal. Soos ek by die hoofingang ingekom het, het ek gesien die groot vertoonkas met al my waardevolle porselein en memo­rabilia is omgegooi. Die kas het voor die venster, waar ingebreek is, gestaan.”

Hy sê slegs sekere artikels is gesteel. Die res van die winkel is gevandaliseer en baie duur en kosbare goedere is gebreek.

“Die sekerheidspersoneel het nie uitgekom nie, want blykbaar het daar geen sein na die beheerkamer deurge­gaan nie.”

Hy was egter verbaas toe Kleinmond-polisie twee verdagtes vasgetrek het. “Hulle het reeds die kameras en wind­buks wat hul gesteel het, verkoop. Die persoon wat die windbuks gekoop het, kon hulle opspoor en hy moes dit teruggee. Dit is al wat hulle gevat het. Die skade wat hulle aangerig het om daardie goedere te steel, is nagenoeg R30 000,” sê hy.

“Ons leef in moeilike tye. Daardie winkel is ons enigste bron van inkomste. Ons maak nie veel nie, maar genoeg om ons dogter se skoolgeld te betaal en te sorg dat daar kos op die tafel is. So baie ander sakeonder­nemings sit in dieselfde bootjie. Die ekonomie het reeds twee jaar gelede begin verswak. Baie van ons moes maar versekering sny om die maandelikse kostes te kan betaal. Die inperking vang ons erg,” sê Lovkis. • Lovkis bedank Kleinmond-polisie vir hul flink diens en vinnige inhegtenisnemings.

You need to be Logged In to leave a comment.