Die feestyd is sinoniem met somervakansie en gesellige familiesamesyn rondom tafels wat gewoonlik kreun onder kos, maar nie almal is so gelukkig om by ’n feestelik gedekte Kerstafel te kan aansit nie. Inteendeel, in baie huishoudings is daar geen kos om op die tafel te sit nie.
Om dít die hoof te bied en verligting te bring, het die Caledon NG Kerk-Wes die Deel die Seisoen-projek, in samewerking met CoLegacy, ’n organisasie sonder winsbejag, begin.
Harvest Foods vervaardig en versprei PEAK-pap. Dié pap hoef nie gekook te word nie; dit kan slegs met koue of warm water of melk gemeng word vir ’n voedsame ete. Een porsie van hierdie pap verskaf aan ’n vierjarige kind 80% van die voedingswaarde wat hulle daagliks benodig, en is ook geskik vir volwassenes, diabete en swanger vroue. Elke pakkie pap bevat 10 porsies.
Altesaam 3 000 pakkies pap is Donderdag 21 Desember aan verskeie kerkgroepe en welsynsorganisasies oorhandig.
Felicity Philander, een van die projekleiers van Deel die Seisoen, het aan Hermanus Times gesê: “Ons het hierdie pap vandag aan verskeie instansies oorhandig, wat dit op hul beurt aan mense in hul gemeenskappe, wat dit nodig het, sal versprei. Ons het eers daaraan gedink om die projek net vir die feestyd te bedryf, maar omdat so groot behoefte bestaan, het ons besluit om dit ’n deurlopende projek te maak.”
Op ’n vraag oor hoe die gemeenskap met hierdie projek kan hel, het Philander gesê: “Mense kan help deur ons te laat weet waar ’n behoefte bestaan en hulle kan ook ’n finansiële bydrae lewer. Die kerk het ’n aparte bankrekening spesifiek vir hierdie doel.”
Indien u wil help, kontak Felicity Philander by 081 270 0758 of Michiel Botha by 067 338 3228 of stuur ’n e-pos-navraag aan ngcalwes@overnet.co.za. PEAK is by Massave in Caledon beskikbaar.