Die rooimiere is destyds ingeroep om die inwoners van Paradisepark uit te sit.


Dit is ’n droewige prentjie as ’n mens op die R43 verby Paradisepark ry en oor die lot van die inwoners wat jare daar gewoon het, wonder.

Inwoners van Paradisepark is in Junie vanjaar gevra om die perseel te verlaat en nie eens hofaansoeke, vreedsame optogte deur die inwoners na die Overstrand-munisipaliteit en ingryping van politieke partye kon die uitsetting keer nie.

Volgens Toni Smit, wat 10 jaar daar gewoon het, was dit ’n bitter dag vir hom en sy vrou, Estelle. “My vrou het by Pick n Pay gewerk en Paradisepark was ons tuiste.

“Dis waar ons hart was en steeds is. Ek kom oorspronklik van Hermanus af en ná die uitsetting was dit vir my baie moeilik. Ons woon tans in Lily Rose Community Farm by Atlantis, maar dis nie maan­skyn en rose nie,” het Toni vertel. Volgens hom moes hulle R2 000 leen vir hul besittings om tot daar te kom. “Nadat ons uitgesit is, het iemand vir ons ’n kamer in Hawston gegee om te bly vir tyd en wyl ons ander blyplek kon kry. Ons bly nou in Lily Rose; dis maar moeilik en baie warm – hier is nie baie bome nie en ons hokkies is maar bedompig.”

Volgens hom het hulle ’n sonpaneel wat vir hulle genoeg elektrisiteit gee om hul selfone te laai en vir krag in die aand en verder kry hulle drie etes per dag en water. “Ons betaal R3 000 per maand, maar ons mis Hermanus elke dag,” sê hy. Hy vertel verder nog twee mans van Paradisepark bly saam met hulle daar.

Philip du Toit, wat 18 jaar lank in Paradisepark gewoon het, vertel hy was van die laastes wat sy huis ontruim het. “Ek was nog besig om te pak toe die balju my ’n uur gee om alles te ontruim. Dit was koud en reënerig en ons almal was baie emosioneel,” sê hy.

Volgens hom bly hy by ’n vriendin in Kraaifontein, maar dit waarvoor hy vir jare gewerk het, is in ’n oogwink van hom weggevat. Philip was ook die een wat gereeld by die hofsittings was en vir die ander inwoners huisvesting gesoek het. “Dit was ’n absolute stryd om vir almal blyplek te kry – van die mense woon in haglike omstandighede, maar hulle het geen ander heenkome nie.”

Volgens Tracey Henn, wat vir jare vir die inwoners baklei het, woon hulle tans in Hawston. Hulle deel ’n drieslaapkamerhuis met haar skoonouers, haar skoonsuster en dié se seun. “Dit is nie maklik nie. Ek kan net dink hoe almal voel wat hul huise verloor het. My skoonouers het vir 20 jaar in hul eie huis in Paradisepark gewoon en nou moet hulle ’n huis met hul kinders deel,” sê sy.

Volgens haar deel ander oudinwoners ’n tweeslaap­kamer-HOP-huis waar ses mense woon. “Van die ander inwoners het na Philippi verhuis en ander na Lily Rose. Mense kan nie die huur in Hermanus bekostig nie en moes maar tou opgooi,” vertel sy.

Tobi en Melanie Wessels bly in ’n tent in Fisherhaven en kan nie finansieel kop bo water hou nie. “Ek en my man is baie ongelukkig waar ons tans woon, maar ons het geen ander heenkome nie, want ons het nie geld nie. Nie net het ek my werk verloor nie, maar iemand het ook by ons tent ingebreek en die meeste van ons goed gesteel. Met al die stres waardeur ons is, bly ons siek ook.” vertel Melanie.

Johan Sieberhagen vertel dit was vir hom ’n traumatiese gebeurtenis, wat ’n uitwerking op hul gesondheid gehad het.

“Dit was nie ’n lekker tyd in ons lewe nie. Die Here het vir ons voorsien, maar ons betaal omtrent drie keer meer as wat ons betaal het. As ek dit nie meer kan bekostig nie, sal ek maar na my kinders toe moet gaan.”

Volgens Alta van Aswegen, ook ’n oudinwoner van Paradisepark, is sy op chroniese medikasie vir angs ná die uitsetting. “Ek is eerlik as ek sê dit gaan nie goed nie. Ek en my man het die eiendom in Paradisepark vir ons aftrede gekoop, met die vooruitsig dat ons dit eendag aan ons kinders kan oordra. En toe kom die groot skok. Ons is 66 jaar oud – waar kan ons nou oor begin?” vra sy. Hulle woon tans in Hawston waar hulle vir R7 000 per maand huur.

“Dit is meer as dubbel as wat ons in Paradisepark betaal het, maar ons hou nog kop bo water. Ek dank net die Here dat ons nog nooit honger gaan slaap het nie,” vertel sy.

Rose Jonker vertel sy ly aan gesondheidsprobleme nadat sy vir 24 jaar in Paradisepark gewoon en in Junie uitgesit is. “Ek het nou chroniese hoë bloeddruk, maar gelukkig het een van my dogters vir my plek gemaak in haar gaste­kamer. Nou wag ons om te hoor of ek plek gaan kry in ’n aftreeoord in Bellville, wat twee van my kinders vir my gaan betaal. Ek het dit reggekry om van my meubels te behou, maar van my ander meubels word in ’n motorhuis gestoor en ander het ek vir behoeftige mense gegee,” vertel sy. “Ek voel ons almal moet vergoed word vir nie net dit wat ons verloor het nie, maar ook vir ons mediese kostes ook.”

You need to be Logged In to leave a comment.