’n Groep jong mans van Struisbaai, wat hulself die Jah Mans noem, het besluit om skouer aan die wiel te sit en met slegs ’n paar besems, ’n selfgeboude waentjie en harke hul buurt skoon te hou.
Marshall Sauls, die leier van die groep, sê die projek het begin toe hy een oggend besluit het om die hoek voor sy huis in Struisbaai-Noord skoon te maak.
“Ek het ’n hark gevat en begin skoonmaak. Ek en ’n paar van my Rasta-vriende het toe sommer die res van die straat ook skoongemaak,” vertel hy.
Hulle het toe voortgegaan om dag vir dag ander strate in die buurt skoon te maak. Gewapen met hul toerusting, plastieksakke en ’n waentjie wat Marshall self gebou het, durf die Jah Mans soggens die paaie aan om vullis op te tel en die strate skoon te vee.
“Ons begin so 09:00 wanneer dit nog stil is. Soms kom help van die laaities ons. Sommige mense gee vir ons geld of koeldrank om dankie te sê vir wat ons doen,” vertel hy.
Hierdeur, sê Marshall, wil hulle aan ander inwoners wys dat hulle nie op ander moet wag nie, maar self skouer aan die wiel moet sit om ’n buurt te skep waarop almal trots kan wees.
Die groep werklose jong mans – tussen 13 en 26 jaar oud – se drome stop nie daar nie. Hulle het ook begin met klein projekte om die kinders konstruktief mee besig te hou.
“Van die kinders oefen ook saam met ons op toerusting wat ek self bou. Ons speel ook speletjies met hulle,” vertel hy.
As die groep sien iemand se erf is oorgroei en onnet, laat hulle nie op hulle wag nie en spring sommer in om die eiendom skoon te maak – sonder om betaling te verwag.
Marshall het die Kaap Agulhas-munisipaliteit bedank vir die skenking van ses besems waarmee hulle die strate help skoonhou. Die groep benodig egter nog grawe, staalharke, handskoene, plastieksakke en twee of drie kruiwaens.
“Ons hoop om genoeg dromme te kry om op elke straathoek te sit. Ons sal die dromme dan elke dag self skoonmaak. Ons wil ook met herwinning help,” sê hy.. Enigeen wat die groep wil help, kan Marshall Sauls by 066 437 4866 kontak.