Sy’s klein en fyn met perfek gemanikuurde naels, en as jy moes raai aan watter sportsoort Romanda Marais deelneem, is motorrenne heel waarskynlik die laaste sportsoort waaraan jy sal dink.
Romanda en haar broer Dévan het onlangs die Oranjemund-300-woestynren gewen, met Dévan as bestuurder en Romanda as navigator.
“Ons is ’n motorsportfamilie. My pa het altyd aan tydrenne en stampmotorwedrenne (stock cars) deelgeneem en ons het van kleins af oral saamgegaan na waar hy gaan jaag het. My broer Dévan het aan veldry- motorfietsbyeenkomste deelgeneem en ook stampmotors gery. Ek dink ons is met petrol in ons are gebore,” sê Romanda.
Nadat Dévan omtrent ’n jaar gelede sy rug in ’n motorfietsongeluk gebreek het, het niemand gedink dat hy weer sou kon loop nie, wat nog te sê van weer aan motorsport deelneem. Hy mag wel nie meer stampmotors ry nie, en vir motorfietse is hy nie tans lus nie, maar niks het hom gekeer om in die 3-liter-Sandmaster te klim en met sy sus as navigator langs hom aan die Oranjemund-woestynren deel te neem nie.
“Ons het die motor so halfklaar gekoop, maar my pa, Diffie, het hom herbou. Ons het dus in die afdeling vir spesiaal-geboude motors deelgeneem. Motorfietse, vierwielmotorfietse en veldrymotors het ook aan die ren deelgeneem,” sê Romanda.
Die veldtydren is oor drie rondes van 45 km elk beslis, met ’n verpligte 10-minute-onderbreking in die kuipe tydens hervulling. Pa Diffie en ma Anelda was die kuipespan.
Romanda sê hulle het voor die ren net twee keer saam geoefen. Vir dié oefeninge het hulle nie die mikrofoon gebruik nie en heerlik gelag gedurende die tydren toe Romanda steeds met handseine beduie het waar om te ry en byvoorbeeld dat daar water voor is, totdat Dévan haar herinner dat sy maar die mikrofoon mag gebruik om instruksies te gee.
“As navigator moes ek die gauges dophou, kyk watter liggies aankom en ook die roete wys. Die tweede ronde was baie stresvol, want die ratkas was warm en wou nie afkoel nie en ek het nie gedink ons gaan dit maak nie. Die derde ronde was darem beter,” sê sy.
Om die wenner van hierdie kompetisie tussen Suid-Afrika en Namibië te bepaal, word alle algehele punte van alle klasse motorfietse en motors bymekaargetel.
“Suid-Afrika het al verskeie kere met die trofee huis toe gekom, maar ek het nie verwag dat Dévan en ek die kompetisie gaan wen nie,” noem Romanda. “Dit was ’n wonderlike ervaring en ons gaan gewis volgende jaar weer deelneem.”