Pikkewyne gelukkig in Bettysbaai

Die lig skyn aan die einde van die tonnel vir die Afrika-pikkewyne nadat ‘n ooreenkoms tussen die regering, CapeNature, bewaringsorganisasies en die pelagiese visbedryf bereik is oor visvanglimiete rondom die […]


Die lig skyn aan die einde van die tonnel vir die Afrika-pikkewyne nadat ‘n ooreenkoms tussen die regering, CapeNature, bewaringsorganisasies en die pelagiese visbedryf bereik is oor visvanglimiete rondom die broeigebiede van die pikkewyne.

“Hierdie ooreenkoms, wat nog van finale regsformaliteite afhang, is ‘n stap in die regte rigting om die toekoms van die Afrika-pikkewynkolonies te beskerm. “Die pikkewynkolonies van onder meer die Stoney Point-natuurreservaat, Dyer- en Dasseneiland sal by hierdie beskermingsooreenkoms baat vind aangesien hul gunstelingprooi, ansjovis en sardientjies, nou in oorvloed sal wees,” het ‘n woordvoerder van CapeNature gesê. Volgens dié woordvoerder moet ander bestuursuitdagings ook die hoof gebied word as hierdie spesie teen uitsterwing beskerm moet word.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê: “Dit is ‘n besluit in die regte rigting vir die Afrika-pikkewyn. Die ooreenkoms is ‘n positiewe aanduiding dat alle partye betrokke is en wil bydra tot die bewaring van die Afrika-pikkewyn. CapeNature is verbind tot die voortdurende bewaringspogings van hierdie spesie en hierdie aanvanklike ooreenkoms help om by te dra tot die breër bewaringstrategie.

“CapeNature sal voortgaan met sy monitering en samewerking met munisipale en nasionale regeringsdepartemente, nieregeringsorganisasies en die plaaslike gemeenskap om die spesie te ondersteun.

“Die Afrika-pikkewyn bly ‘n gunsteling vir menige besoeker aan die Wes-Kaap en vervul nie net ‘n belangrike rol in die toerismesektor nie, maar dra ook by tot werkskepping.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.