Plaasbewoners van Grabouw is woedend nadat ’n man na bewering ’n vrou met ’n skerp voorwerp in die nek gesteek en haar probeer verkrag het.

Vroue het verlede Woensdag (11 Januarie) voor die Grabouw-landdroshof teen geweld teen vroue en kinders betoog. “Ons as vroue en die gemeenskap moet teen dié nuwe pandemie saamstaan. Ons het ook ’n reg,” het een van die vroue gesê. “Grabouw is besig om in ’n misdaadnes te ontaard, en as ons nie saamstaan nie, gaan niks van ons dorp oorbly nie.

“Dis tyd dat ons, die gemeenskap – en veral die politieke leiers – politieke aspirasies opsy moet skuif en misdaad moet bestry.”

Volgens kapt. Raldene Atson, ’n woordvoerder van die Grabouw-polisie, het hierdie voorval op 1 Januarie plaasgevind.

“Die slagoffer (56) het die 26-jarige verdagte op 1 Januarie omstreeks 04:30 in haar seun se kamer aangetref. Toe sy hom konfronteer, het die verdagte haar met ’n mes gesteek en probeer verkrag,” het sy gesê.

Die man is op ’n aanklag van poging tot verkragting en poging tot moord in hegtenis geneem.

Die saak is uitgestel en hy het weer vandag (Woensdag 18 Januarie) vir ’n borgtogaansoek in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.