Die aktrise Sandra Vaughn, ook ’n draaiboekskrywer, is ’n Kleinmonder wat spontaan leef, lekker eet en gereeld ander mense inspireer. Rick Marais het met haar gesels.
Ons lesers sal jou van Binnelanders ken asook die destydse trefferfliek Semi-Soet. Jy is deesdae ook in Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Vertel ons van Sandra Vaughn die aktrise; hoe het jy as aktrise begin, en waarom? Ek is maar net ’n meisie van Pretoria wat op negejarige ouderdom begin het met dramaklasse by Esther Bredenkamp (van Blackdoor-studio in Pretoria; ek was haar heel eerste student). Om op te tree en te entertain was vir my altyd baie natuurlik – seker maar my reusagtige verbeelding en my liefde vir boomklim. My eerste rol was op vier in Knikkie-kleuterskool se konsert toe ek “Kiepie-Kiepie, kom tog gou” op die verhoog gesing het en my medeakteurs almal hoenders was. Ek onthou nog goed die kopdoek wat ek opgehad het en hoe tuis ek op die verhoog gevoel het (en hoe ek my “hoenders” rondgejaag het omdat hulle nie op hul regte plek op die verhoog was nie). Ek het my BA-dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sandra Vaughn die aktrise is basies what you see, is what you get. Ek is hardwerkend en lief om toneel te speel; dis uitdagend en angswekkend en so verslawend, dit bruis soos sodawater in my are.
Som gou op – wat is van jou grootste rolle wat jy tot dusver gespeel het? ’n Deeltjie van elke karakter bly in ’n sagte gedeelte in my hart; party van hulle kry ’n groter plekkie met sy eie goue naamplaatjie, soos Karla in die fliek Semi-Soet; Debbie Meyer in 7de-Laan en Hannelie de Kock in Zero Tolerance III.
As jy net een kon kies, wat sou jy kies – speel in televisiedramas, of sou jy eerder in flieks wou speel? Ek reken televisiedramas, want hulle het langer bene – menende meer tyd om die kinkels en kabels van die storielyne te vertel en jou karakters sodoende op interessante reise te neem. Wel, jou karakter en natuurlik indirek jouself.
Ek het ook iewers gehoor dat jy nie net ’n briljante akteur is nie, maar ook ’n goeie draaiboekskrywer. Vertel ons meer van jou talente om draaiboeke te skryf; werk jy of het jy al aan groot draaiboeke gewerk en hoe ondervind jy die draaiboekskrywery? Ek het destyds in 2007 saam met Deon Opperman en Hanli Rolfes aan Getroud met Rugby begin skryf toe dit nog net ’n reeks was. Daarna het ’n klomp reekse gevolg, waaronder Geraamtes in die Kas, waarvoor ek en Corine du Toit ’n Safta (Best Achievement in Scriptwriting) gewen het, en die reeks Swartwater onder leiding van Hèléne Truter as hoofskrywer. Albei die reekse was/is hoogtepunte van die klomp waaraan ek al geskryf het. Maar Semi-Soet bly maar steeds my all-time-gunsteling-fliek, en ek en Corine du Toit het ook saam aan Susters, As jy Sing, en Alles wat Mal is, geskryf. ’n Paar ander reekse en flieks ook, maar laasgenoemdes is steeds die gunstelinge in my huidige skryf-blommerangskikking.
Plaaslike lesers sal jou gereeld iewers in Kleinmond sien. Vertel ons lesers waarom jy en jou man, Pierre van Pletzen, besluit het om in Kleinmond te kom woon en wat maak Kleinmond so unieke dorp in die Overberg? My familie besit al ons vakansiehuis in Kleinmond van 1974 af. My ouers, Quintin en Martie Papenfus, het seker gemaak dat ons klomp elke Desember hier vakansie kom hou. Ek het ongelooflike vriende hier gemaak – al van my kinderjare af. So, ek ken Kleinmond al van my geboorte af. Ná al die 7de Laan-drama en soeke na werk het Yeshua ons letterlik Kleinmond toe gelei. Eers het ons gedink dit gaan tydelik wees, maar dank die Vader, toe maak Hy dit ’n permanente tuiste vir ons. Net God sou so ’n goeie plan kon uitdink. Kleinmond is die beste vriendin of pêl wat almal óf in hul lewe wil hê, óf heimlik na hunker. Buiten Kleinmond se natuurskoon, sy warm-vriendelike-ek-is-hier-vir-jou-mense, die veiligheid, samehorigheid en proteas, is daar ’n kalmte en rustigheid wat ’n mens daagliks toevou. My hele wese asem uit wanneer ek ná ’n lang dag op stel die dorp binnery. Die mense wat ek die afgelope drie jaar vandat ons permanent hier bly, hier ontmoet het, sou ek nooit andersins ontmoet het nie. Elkeen is karaktervol en uniek; dis asof Kleinmonders passie en liefde natuurlik uitstraal en die strale affekteer almal, vat so saggies-saggies aan jou tot elke skerp punt in jou wese afgevyl word.
Jy en jou man is albei akteurs. Hoe lyk jul skedules; kry julle darem tyd saam af of gaan dit sommige weke woes tussen al die werk? Ons is bevoorreg genoeg om darem altyd tyd saam te hê. Dit was ’n ooreenkoms wat ons destyds gemaak het toe ons getroud is. Ons ken mekaar baie goed en weet ook presies wat die ander een nodig het om te herlaai.
Hoe kry julle dit reg om nog gelukkig getroud te wees? Het julle enige wenke vir paartjies daar buite? Ons doen elke dag iets spesiaals vir mekaar. Pierre is baie romanties en herinner my gereeld van die hoeveelheid jare wat ons die eerste keer “Ek is lief vir jou gesê” het. Dis moeilik om wenke vir paartjies te gee, want mense verskil so vrek baie. Wedersydse respek, gun mekaar ruimte, ondersteuning en veral om te leer om na mekaar te luister, is altyd goue raad. En bid saam, al voel jy nie lus vir bid nie – vir wat ook al die rede, doen dit net. Dis soos terapie, net beter, en Yeshua download altyd die beste raad en wysheid! Hy stel nooit teleur nie. Sy Hand is sag en liefdevol en die uitkoms altyd beter as wat jy ooit gedink het dit kan wees.
Ons hoor ook dat jy en Pierre gereeld met jul honde in Kleinmond gaan stap. Watter gebied van Kleinmond is die mooiste om in te gaan stap, en waarom? Die staproetes rondom Faerie Glen en die berge in na die plato en tot bo by Spookberg, Klispspringer en Kasteelkop, en die plankiepad by Palmiet en natuurlik Kleinmond se rotspaadjie kuslangs. Waarom? Want dis alles asemrowend. Ek sê altyd as jy in Kleinmond op die strand staan (of enige bogenoemde plekke) en jy draai 360° is alles wat jy sien wêreldklas-skoonheid. Dis nie in Kleinmond se skoonheids-CV om teleur te stel nie. Ons honde, Spartacus en Virginie, dink ook so.
Sandra Vaughn, die vrou – nie die aktrise nie: Wie is jy; wat is jou gunstelingkos; wat is jou grootste droom? Ek is maar pretty straight forward. Ek’s ontsettend lief vir my familie en vriende. Een van die grootste hoogtepunte in my lewe is die dag toe ek Pierre se kinders ontmoet het. Ek het die voorreg om al vir 26 jaar hul stiefma te wees. My grootste droom is om gelukkig en gesond te wees, en om dan doodeerlik te wees: weer te begin perdry. Ek het vir 20 jaar uithouritte gedoen en dink dis nou weer hoogtyd om te begin. Perde is my unieke happy place. Hulle hou ’n mens nederig en leer ’n mens altyd van konstante liefde en kameraadskap. O ja, en kos! Daar’s nie altyd geld vir uiteet nie, maar gelukkig het ons vriende wat ongelooflike foodies is en ons is altyd gretig om te proe en saam te smul. Enigiets wat ons goeie vriende Tertius Strydom of Burger Malherbe gaarmaak, laat ons mae en tongspeeksel sing en Just Delicious se kos stel ’n mens nooit teleur nie.