Plaaslike kaas raap pryse op

Dis plaaslik en lekker en dit kom van Stanford.


Dis plaaslik en lekker en dit kom van Stanford.

By die 189ste Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings, wat in Maart op Cavalli-landgoed buite Stellenbosch aangebied is, is van die beste suiwelprodukte bekroon – en een van dié kampioenkase is dié van Klein River Cheese in Stanford.

Die SA Suiwelkampioenskap word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is dit ’n besondere voorreg om die kampioenskap vir die 189ste jaar aan te bied aangesien Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ook 190 jaar van erfenis en 25 jaar van innovasie vier.

“Innovasie kenmerk inderdaad hierdie gesogte vlagskipprojek oor baie jare,” sê Ehlers. “Ons het in 2001 die Qualité-merk geskep as die enigste merk van uitnemendheid vir Suid-Afrikaanse suiwelprodukte. In 2020 het ons die heel eerste virtuele toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse landbousektor aangebied. Verder is ons die enigste organisasie in die wêreld wat ’n groot suiwelkampioenskap deurlopend oor die afgelope drie jaar kon aanbied – wat die weg gebaan het vir die suksesvolle nuwe konsep van ’n hibriede SA Suiweltoekennings, wat vir die tweede jaar by Cavalli-landgoed sowel as op ons webwerf plaasvind.”

Die groot aantal inskrywings en die uitsonderlike gehalte van produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika. “Vanjaar se uitslae getuig van ’n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen groter vervaardigers en kleiner entrepreneurs, met ’n totaal van vyf Qualité’s wat aan Lactalis South Africa toegeken is, drie aan Fairview, twee elk aan Clover SA, De Pekelaar Boerenkaas, Belnori Boutique Cheesery, Klein River Cheese en Rhodes Food Group, en ’n goeie verdeling tussen die ander wenners.”

Volgens Klein River Cheese is hulle baie trots dat hul kase die afgelope 18 maande wêreldwye erkenning gekry het en ook nou ’n Qualité-merk van gehalte verwerf het.

“Ons het die afgelope jaar by die Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings 11 goue medaljes gewen vir ons Gruberg Young, Gruberg Mature, Colby, Overberg en Oak Smoked Stanford. Silwermedaljes is verower met ons Gruberg Vintage, Danbo en Parmesan, en verder het ons Stanford die bronsmedalje opgeraap. Maar die kersie op die koek was seker die Qualité-toekenning vir ons Gruberg Young en Mature,” vertel Bianca Church, bemarkingsbestuurder, trots.

Op ’n vraag wat gewild is om saam met hul kase te nuttig, antwoord sy trots, “alles loop lekker saam met ons kaas”. “Ons kase is bekend om saam met wyn, vye, olywe, tapenades en selfs met heuning en sjokolade geniet te word,” vertel sy.

Volgens haar is die sleutel tot hul sukses, geduld. “Om ons kaas so stadig as moontlik na aanleiding van die tradisionele resep te verouder, is dit wat ons produkte so spesiaal maak.”

Klein River Cheese se langtermynplanne is om as die beste boetiekkaas in die land bekend te staan. “Ons wil hê die kaasliefhebbers van oor die land heen moet ons kase geniet. Ons brei uit na Gauteng en ander dele van die land ook. Hou ons dop, ons gaan net van krag tot krag,” sluit Bianca af. . Vir volledige uitslae van die SA Suiwelkampioenskap, besoek www.cheesesa.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.