Hy het langs Atlantics-rugbyveld grootgeword en dis waar sy liefde vir rugby begin het. Elke Saterdag het hy kaalvoet langs die veld gewag en as baljoggie vir sy gunstelingspan opgetree, en vandag draf hy vir die Suid-Afrikaanse o.18-rugbyspan uit.
Die rol wat die Atlantic-rugbyspelers en bestuur in die lewe van Junaide Pasensie gespeel het, kan nie ongesiens verbygaan nie, en dit is ook een van die redes waarom hy vandag bo sy omstandighede uitgestyg het.
Die Atlantics-rugbyklub beleef volgens die voorsitter van die klub, David Coert, vanjaar ‘n absolute droomjaar. Nie net is die span boaan die punteleer vir die Streekuitdaagreeks nie, maar die spelers, bestuur en ondersteuners is trots op hul onoorwonne status tydens die seisoen.
Hermanus Times het met die hoofafrigter, Colin Sauls, gepraat. Colin vertel hy is trots op die span en volgens hom het die spanne en die klub hul doel gedeeltelik bereik. “Ons is boaan die punteleer vir die streekuitdaag, maar het nog nie heeltemal ons doel bereik nie. Ons wil graag volgende jaar aan die Grootuitdaag-reeks deelneem.
Volgens Colin het dit harde werk gekos om tot hier te kom en gee hy elke speler die krediet wat hom toekom aangesien elkeen van hulle alles ingesit het om die prestasie te bereik. “Ons geheime wapen is definitief ons fiksheid. Ons oefen twee tot drie aande per week en oefen ook gereeld op die strand. Verder kan ons ook nie die rol wat die ervare spelers in die span speel, miskyk nie.”
Hy vertel verder vir hom as afrigter is dit heerlik om met die span te werk. “Dit kan soms uitdagend wees, want die jongmanne is baie grapperig, maar gelukkig weet hulle wat hulle doelwitte is, maar hulle weet ook wanneer om baie ernstig te wees.”
Die span gaan nie vir die uitspeelronde veel van die oefenprogram afwyk nie nie. “Ons gaan gewis net ons fokus verskerp en aandag gee aan dit wat tot nou vir ons gewerk het,” het Colin gesê.
Hy sê ook hulle gaan hul span se motto verder uitleef – “wees stil en doen”. “Dit is belangrik om te weet dat dade harder spreek as woorde, dus is dit belangrik om nie te vol van jouself te wees nie, maar stil-stil deur jou dade te wys wie jy werklik is.”
Die Atlantics-span het almal wat betrokke is by Vrydagaande se spanpraatjies, vir hul hulp bedank. “Veral die vroue wat gereeld verversings bring.”
• Nog ‘n oudspeler en bestuurslid van Atlantics blink in rugbykringe uit. Marquine Lukas is op die bestuur van Boland-rugbyunie, wat tans so goed in die Curriebeker vaar.








