Plaaslike studente blink uit by kampioenskap

Binne een jaar sedert die Overberg-judo-akademie in Riviersonderend op die been gebring is, het dit ’n SA kampioen opgelewer.


Binne een jaar sedert die Overberg-judo-akademie in Riviersonderend op die been gebring is, het dit ’n SA kampioen opgelewer.

Sensei Celton Hendricks, wat die akademie in Julie 2021 amptelik gestig het, is besonder trots op sy student Wilfred Potberg (17), wat hierdie hoogtepunt bereik het.

Hendricks kan met reg trots wees op die feit dat vier van sy studente – Potberg, Hugh-Gan Mintoor (13), Jason Snyman (13) en Wilnesia Fielies (13) – in Junie na Gqeberha (Port Elizabeth) gereis het om aan die SA judo-kampioenskap deel te neem. Potberg het die klub se naam hoog gehou deur goud te wen en Fielies het ’n bronsmedalje verower.

“Die ander twee het goed geveg en het ten minste elkeen ’n geveg gewen,” sê ’n trotse Hendricks.

Vyf van Hendricks se studente het gekwalifiseer om aan die nasionale kampioenskap deel te neem, maar een kon weens ’n besering nie meeding nie.

Hierdie kampioenskap, vertel Hendricks, was slegs vir judoka ouer as 13. Judo-studente jonger as 13 sal in Oktober aan ’n toernooi in Johannesburg deelneem.

Dit volg nadat sy studente by verskeie WP-toernooie uitgeblink het. Altesaam sewe studente van die 10 van die Overberg-judo-akademie wat deelgeneem het, is in hul onderskeie kategorieë as WP-kampioene gekroon terwyl die drie ander ook in die WP-span opgeneem is.

“Dit is baie indrukwekkend, want hulle moes ander meer ervare kampioene klop,” sê Hendricks.

Wat dié prestasies nog meer besonders maak, is die feit dat van die studente die sport slegs ’n jaar gelede die eerste keer begin beoefen het toe die akademie amptelik in Junie 2021 gestig is.

“Ek het in Maart 2020 terug Riviersonderend toe verhuis. Ek het in Julie daardie jaar, toe die land nog in streng inperking was, vyf kinders begin afrig,” vertel Hendricks, wat ’n swartgordel in dié Oosterse gevegskuns het.

Omdat gimnasiums en gemeenskapsale destyds weens die inperkingsmaatreëls stadium gesluit was, moes hy en sy studente noodgedwonge op ’n stuk gras oefen.

Dit het so aangegaan totdat Hendricks die akademie in Junie 2021 amptelik gestig het en hulle by ’n plaaslike gimnasium kon begin oefen.

Hendricks, wat ook jiu jitsu beoefen en voorheen karate, boks en “freestyle” stoei gedoen het, vertel die klub het aanvanklik 30 studente gehad, maar het nou ongeveer 20 judoka het wat twee keer per week oefen.

Enigeen wat wil aansluit of meer oor judo wil leer, kan Hendricks by 071 872 6836 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.