Dr. John Francis, of die “Planetwalker”, wat twee weke gelede ’n draai in Hermanus gemaak het, (“Te voet van Kaapstad tot in Kaïro”, Hermanus Times, 24 Januarie) het ook verlede week ’n draai by die mees suidelike punt van Afrika gemaak.
Francis het kragte saamgesnoer met GLOBE, ’n wêreldwye wetenskap-en-opvoedkundige organisasie wat op die omgewing fokus, om van Januarie tot Maart meer as 9 000 km van Kaapstad tot Kaïro te stap.
Kaap Agulhas, wat ook met sy eie avonturier pronk, het Francis by die mees suidelike punt ontmoet. Volgens Pierre Massyn, die skrywer en avonturier wat die Suid-Amerikaanse vasteland al twee keer – in sy dwarste – oorgesteek het en verlede jaar met sy 70 ste verjaardag Los Hornos, die Chileense gebied 20 grade verder suid as Kaap Agulhas, besoek het, was baie opgewonde om Francis te ontmoet. (Lees Pierre se rubrieke oor sy avonture op Netwerk24).
“Ek was baie opgewonde toe die speaker van die Kaap Agulhas-munisipaliteit, Derick Burger, my gevra het om Francis by die suidpunt te verwelkom,” vertel Massyn.
Die unieke ontmoeting is met ’n botteltjie Jägermeister gevier. “Francis het summier ’n heildronk op die natuur ingestel en die inhoud weggeslaan om plek vir seewater te maak. Hy gaan die bottel in die Middellandse See leegmaak wanneer hy Egipte bereik om die oseane simbolies met mekaar te verbind.
Massyn het ook ’n getekende eksemplaar van Springbok Rugby-Vasvra aan Francis oorhandig. “Volgens Francis sien hy daarna uit om meer oor die viermalige wêreldkampioen te wete te kom aangesien hy in sy tuisland, die VSA, soveel van die Springbokke gehoor het.”