Kaptein Fadila September, sersant Bongani Dywaba, WO Lilian Davids en kolonel Desmond Fortuin van die Hermanus-polisie en Grant Gillion van Overstrand wetstoepassing sowel as die Hawston buurtwag en Hawston Interfaith Forum het die vergadering bygewoon.Foto: Bianca Du Plessis


Kommer oor die misdaadvlakke in sy dorp het ’n plaaslike sakeman aangespoor om na die gemeenskap, plaaslike polisie en Overstrand- wetstoepassingseenheid uit te reik met ’n voorlegging oor hoe hulle kan saamwerk in die stryd teen misdaad.

Pastoor Jeffaton Stoffels, die besturende direkteur van Secumar-sekuriteit, het die veiligheidsplan opgestel en die vergadering belê na aanleiding van berigte op sosiale media oor inbrake en ander misdaad in die dorp.

Hy het gemeld dat hoewel sekerheidsmaatskappye, die owerhede en selfs die buurtwag gereeld patrollies doen, dit nie ’n beduidende verskil aan die hoë misdaadvlakke in die dorp maak nie.

“Dit is net as ons as gemeenskap saamstaan dat ons ’n verskil kan maak.”

Hy het voorgestel dat inwoners van elke straat ’n straatwagkomitee vorm wat beurte sal maak om die straat te monitor en dat ’n komitee met verteenwoordigers van die verskeie rolspelers gestig word om die straatwagkomitees te bestuur.

“Langer strate kan in sones verdeel word. Mense hoef nie heeltyd patrollies te doen nie, hulle kan selfs net by hul hek staan en met ’n skerp lig in die pad skyn om sodoende die misdadigers af te skrik,” het hy verduidelik.

Grant Gillion, senior inspekteur van Overstrand-wetstoepassing, het uitgewys dat hoewel daar ’n vertrouensbreuk tussen inwoners en owerhede is, daar tog beamptes is wat inwoners vertrou en inligting aan kan deurgee. Hy het verduidelik dat mense nie afgeskrik hoef te word deur die feit dat hulle moontlik in ’n hofsaak sal moet getuig nie.

“Die publiek kan die inligting deurgee aan ’n beampte wat hulle vertrou. Hulle hoef dan net ’n verklaring af te lê en die beampte sal die nodige lasbriewe kry om verdere stappe te neem. Indien mense in hegtenis geneem word, sal die beampte in die hof getuig. Jou identiteit word beskerm, want slegs die beampte en die landdros wat die lasbrief magtig, sal weet wie jy is,” het hy verduidelik.

Adjudant-offisier Lilian Davids het die gemeenskap ook aangemoedig om wenke oor misdaad aan die polisie deur te gee en gesê finansiële belonings word gegee vir inligting wat lei tot inhegtenis-nemings en suksesvolle vervolgings.

Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het gemeld dat sou ’n straatwagkomitee op die been gebring word, daar aansoek gedoen kan word om finansiering en toerusting vir dié wat patrollies doen.

Stoffels het ook voorgeneem dat Secumar sy patrollievoertuig vir patrollies sowel as hul 24-uur-beheerkamer as noodsentrum beskikbaar sal stel. “Dit gaan nie oor geld nie, die maatskappy wil graag die gemeenskap waarin ons besigheid doen, help. As die gemeenskap inkoop op hierdie voorstel, is Secumar bereid om terug te ploeg. Dit kan werk as almal, veral diegene wat op sosiale media oor die misdaad kla, inkoop,” het Stoffels beklemtoon. “As almal saamstaan, kan ons ’n beduidende verskil maak.”

Nog ’n vergadering sal binnekort gehou word.

You need to be Logged In to leave a comment.