Die Valke, in samewerking met plaaslike polisie, het in ’n spesiale operasie beslag gelê op dwelms met ’n geskatte waarde van meer as R4 miljoen en twee verdagtes in hegtenis geneem.
Luitenant-kolonel Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, berig dat die Valke se dwelmeenheid tesame met die misdaad-intelligensie-eenheid, Overberg-blitspatrollie, Overberg-honde-eenheid en provinsiale verkeersbeamptes Vrydag 31 Desember die sukses gemaak het toe hulle inligting opgevolg het oor twee voertuie wat dwelms vanaf Gauteng na Kaapstad op die N2 vervoer.
“Die eerste voertuig – ’n Mercedes Benz wat aan die beskrywing voldoen het – is op die N2 by Grabouw gewaar. Die gesamentlike span het die voertuig voorgekeer en by nadere ondersoek is 24 pakke, wat altesaam 24 000 Mandrax-tablette ter waarde van ongeveer R840 000 bevat het, ontdek. Die dwelms is in ’n versteekte kompartement agter die agterste sitplek gevind,” het Nkwalase gesê.
Daar is op die dwelms sowel as die voertuig beslag gelê en ’n 35-jarige man is op aanklag van dwelmhandel in hegtenis geneem. Hy het reeds 3 Januarie in die Grabouw-landdroshof verskyn.
Die tweede voertuig – ’n VW Transporter – is op die N2-hoofweg by Heidelberg voorgekeer. Daar is beslag gelê op 100 000 Mandrax-tablette wat in ’n versteekte kompartement onder die bak van die voertuig gevind was. Die taakspan het ook op die voertuig beslag gelê.
Een verdagte (52) is in hegtenis geneem en het op 3 Januarie op aanklag van dwelmhandel in die Heidelberg-landdroshof verskyn.
Brigadier Mushavhaduvha Ramovha, waarnemende hoof van die Valke in die Wes-Kaap, het die beamptes van die verskeie eenhede vir hul samewerking geloof.
Hy het bygevoeg: “My pleidooi aan die publiek is om altyd teen misdaad op te tree deur die misdade by die polisie aan te meld.”
Brigadier Donovan Heilbron, bevelvoerder van die Overberg-kluster, sê wetstoepassingowerhede – die polisie, plaaslike wetstoepassingseenhede, buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums – sal alles in hul mag doen om te verseker dat dwelms in die Overberg-distrik hokgeslaan word.
“Ons sal voortgaan om met die verskillende gemeenskappe te werk om ’n veiliger Overberg-distrik te verseker. Ons glo sterk daaraan dat veiligheid die hoekstene is van enige vooruitstrewende gemeenskap. Dit sal ekonomiese groei in ons streek verseker, werkloosheidsvlakke verlaag en ons mense se waardigheid herstel.”