Die polisie is op soek na leidrade wat kan lei tot die moord van drie inwoners van Grabouw.


Inwoners van Grabouw is geskok ná drie wrede moorde wat die afgelope tyd in die stil plaasdorp plaasgevind het. 

Volgens kapt. Raledene Atson, ’n woordvoerder van die Grabouw-polisie, is drie lyke in net ’n week tussen die Hoërskool Grabouw se sportterrein en die informele nedersetting by Waterwerke gekry.

 “Die liggaam van Berend van der Horst is Maandag 2 Januarie omstreeks 19:20 tussen die Waterwerke-informele nedersetting en die sportterrein van die Hoërskool Grabouw gekry. Hy het veelvuldige beserings gehad. Die tweede liggaam is Dinsdag 3 Januarie omstreeks 11:30 gekry. Dié man, 31 jaar oud, is ook aan veelvuldige beserings dood. Sy naam mag nog nie bekend gemaak word nie aangesien sy familie nog nie van sy dood in kennis gestel is nie. Inwoners het Sondag (8 Januarie) op die lyk van nog ’n man afgekom. Sy hande was vasgebind en hy is opgehang,” het Atson gesê. “In dié geval het ons ’n klagte oor ’n boendoe-hof ontvang. Ons stel ondersoek in om te bepaal of die drie voorvalle dalk met mekaar verband hou.”

 Enigiemand wat inligting oor die voorvalle het, kan die Grabouw-polisie anoniem kontak. 

You need to be Logged In to leave a comment.