’n Man wat sy lewe glo aan die hand van die polisie verloor het en katalitiese omsetters met ’n straatwaarde van R1,4 miljoen is gevind . . .
’n Skokkende video het verlede week soos ’n veldbrand op Facebook versprei oor ’n inwoner wat glo deur die polisie geskiet is. Op die video kan die skote duidelik gehoor word, waarna ’n man in die straat neersak.
Gerugte het die ronde gedoen dat die polisie verlede Dinsdagaand op verskeie dwelmhuise in Vleiview toegeslaan het toe inwoners die polisie onder klippe gesteek het. ’n Mens kan ook duidelik op die video hoor hoe die inwoners gil, “gooi die klippe, gooi die klippe . . .”
Volgens die woordvoerder van die Caledon-polisie het hulle om 20:45 inligting ontvang dat dwelms by ’n sekere huis afgelaai word en die betrokke perseel besoek. “Met aankoms is polisielede met klippe gegooi, waar twee patrollievoertuie erg beskadig is. ’n Klag van openbare geweld word tans ondersoek. Tydens die voorval is waarskuwingskote deur die polisie afgevuur en ’n 26-jarige man is noodlottig gewond. Die aangeleentheid word verder deur Opod ondersoek. “
In ’n ander voorval Woensdag is drie verdagtes naby Caledon in hegtenis geneem nadat katalitiese omsetters met ’n straatwaarde van R1,4 miljoen in die verdagtes se voertuig gevind is. “Die katalitiese omsetters is tydens ’n roetineondersoek op die N2 gevind. Drie mans tussen die ouderdom van 24 en 39 is in hegtenis geneem en het op 24 Junie in die Caledon-landdroshof verskyn,” het die woordvoerder gesê. Die saak is tot 7 Julie vir verdere ondersoek uitgestel. . Netwerk24 het op 3 Februarie berig dat ’n nuwe dwelmgier veroorsaak dat katalitiese omsetters van motors oor Suid-Afrika se grense gesmokkel word.
Volgens die berig word ’n poeier uit die kern van die omsetters vir ’n nuwe dwelmmiddel onttrek. “ ’n Katalitiese omsetter bevat metale soos palladium, rodium, platinum en goud. Die kern van ’n omsetter – wat die vrystelling van giftige uitlaatgasse deur motors verminder – kan tot ’n fyn poeier gemaal word en in die vervaardiging van ’n dwelmmiddel geruik word,” het die berig op Netwerk24 gemeld.