’n Polisiebeampte is in die hospitaal opgeneem nadat die polisievoertuig waarin hy ’n passasier was deur ’n voertuig op die N2 buite Riviersonderend getref is.

Sersant Abigail Naidoo, ’n woordvoerder vir die polisie in die Overberg-distrik, berig dat die beampte en ’n kollega Saterdag 6 April omstreeks 15:20 gereageer het op ’n klagte oor ’n skaap wat in ’n heining verstrengel was.

“Die bestuurder van die voertuig het buite gestaan en met die plaaseienaar gepraat. Hy het toe gesien hoe ’n bakkie die polisievoertuig tref,” het Naidoo gesê.

Die beampte wat in die polisievoertuig gesit het, is per ambulans hospitaal toe vervoer. Die voertuie is erg beskadig en moes van die toneel af weggesleep word.

Volgens Naidoo word ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article