Politieke partye maak leë beloftes

“Dit is nou al ’n jare lange gesloer en ons as inwoners sit op ’n tak soos ’n voël om geskiet te word.”.


“Dit is nou al ’n jare lange gesloer en ons as inwoners sit op ’n tak soos ’n voël om geskiet te word.”

Dít was die woorde van een van die inwoners van Paradisepark nadat ’n uitsettingsbevel voorverlede week op van die inwoners van dié omstrede grond uitgevoer is (Hermanus Times, 31 Augustus 2022, “Talle nou op straat”).

Die saga rakende Paradisepark kom al van 2018 af nadat dié stuk grond – langs die R43 by Vermont – in 2017 reeds aan die nuwe eienaars vir ontwikkeling verkoop is. Van die inwoners het volgens hulle ’n mondelingse ooreenkoms met die afgestorwe eienaar van die grond, Johannes Schonegevel, gehad en lewenslange verblyfreg daar gehad. Ná Schonegevel se dood het sy dogter, wat die grond geërf het, die grond verkoop.

En van 2018 hang die lot van die Paradisepark-inwoners af van verteenwoordigers van politieke partye wat aan hulle “net leë beloftes maak”.2018

Hermanus Times het op 10 September 2018 in ’n berig, “Voorstelle oor toekoms van Paradisepark ‘op die tafel’ ”, gesê die inwoners van Paradisepark verwelkom die ingryping van die Wes-Kaapse regering in hul situasie. Die destydse minister van menslike nedersetting, Bonginkosi Madikizela, het die inwoners op 3 September 2018 die tweede keer besoek en gesê: “Ek wil oplossings vir Paradisepark-inwoners hiér vind, nie elders in die Overstrand nie.” Die inwoners het destyds al teen ’n uitsettingsbevel geappelleer. 2019

In 2019 het Tracey-Lee Henn, een van die woordvoerders van die Paradisepark-inwoners, in ’n berig gesê die inwoners is al na die munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering vir hulp, maar die nasionale regering was al wat hulle wou help (Hermanus Times 20 Mei 2019, “Paradisepark-inwoners steeds positief”).

“Ons het al baie ministers hier gehad en almal het beloftes kom maak. Tans wag ons om te kyk wat gebeur met die saak wat aan die gang is. Ek kan totdat die saak afgehandel is, nie veel kommentaar gee nie. Die inwoners hoop dat die grond sonder vergoeding onteien sal word, soos Ace Magashule, die ANC-sekretaris-generaal, met sy besoek aan ons gesê het,” het Henn destyds gesê.

Die destydse nuutaangestelde plaaslike minister van menslike nedersetting, Tertuis Simmers, het die Paradisepark-inwoners in Julie 2019 besoek en by die vergadering gesê die departement van menslike nedersettings het destyds met die eienaars van Paradisepark se grond onderhandel. “Hier is ’n behoefte aan behuising geïdentifiseer en dis waarom ons die grond wil koop – om julle te help. Ons is besig met ’n bemiddelingsproses met die eienaars van die grond,” was Simmers se belofte.

Intussen het die Covid-19-pandemie gekom en Simmers se beloftes het soos mis voor die son verdwyn. 2021

Op 23 April 2021 het Hermanus Times berig dat van die inwoners van Paradisepark te bang was om hul huise te verlaat (Hermanus Times, 23 April 2021, “Hel in Paradisepark”).

Henn het gesê 58 gesinne was so bang dat hulle uitgesit gaan word dat hulle glad nie eens hul huise wou verlaat nie. “Die regter in die saak het destyds ’n beslissing gevel dat die 58 gesinne op 5 Januarie uitgesit moet word. Ons het toe verlof tot appèl teen hierdie beslissing ingedien, maar dit is nie goedgekeur nie,” het Henn gesê.

Marcellino Martin, Simmers se woordvoerder, het op 22 April 2021 aan Hermanus Times bevestig dat die departement nie die grond gaan koop nie. Die beloftes wat tydens vorige vergaderings tussen die minister en inwoners aangegaan is, was onderhewig daaraan dat die departement ’n ooreenkoms oor die koopprys met die nuwe grondeienaars bereik het. Die partye kon egter nie oor die koopprys ooreenkom nie,” het Martin gesê.2022

Op Vryheidsdag 27 April het Masizole Mnqasela, die destydse DA-hoof van die kiesafdeling van die Overstrand, die 300 inwoners van Paradisepark toegespreek.

“Inwoners word met hofbevele en uitsetting gedreig. Dit is ’n emosionele saak van ’n gemeenskap wat nie baie van die regering vra nie. Al wat hulle vra, is beskerming teen uitsetting, want hulle het nêrens om te gaan nie,” het hy gesê. “Baie arm mense woon hier –ook pensioentrekkers en mense sonder inkomste.” Hy het gevra Paradisepark-inwoners moet beskerm word en daar aanbly. “Ons moet ons gesag as DA gebruik om hulle te beskerm.”

Cameron Dugmore, die leier van die ANC in die Overstrand, het ook by monde van ’n brief gesê hulle wil met die verskillende rolspelers hande neem om die Paradisepark-kwessie op te los.

“Ek het met die minister van menslike nedersetting, Mmamolok Kubayi, rakende Paradisepark gepraat. Volgens haar is twee opsies beskikbaar om die inwoners te beskerm,” het hy in April gesê.

Volgens Dugmore is die eerste opsie om as regering met die ontwikkelaar te praat om sodoende die grond te koop. Die ander opsie is om ingevolge die Wet op Onteiening op te tree.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.