Die twee mans wat weens die moord op Hans Wessels (71) aangekla is, is verlede Woensdag tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit het.
“Dertig jaar is nie genoeg nie, maar ’n mens moet dit maar aanvaar. Niks kan dit regmaak wat hulle aan ons gedoen het nie,” sê Peter Wessels, die oorledene se seun.
Volgens Eric Ntabazila, Wes-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is Denver Hendricks en Johnico Pretorius aangekla van moord en roof met verswarende omstandighede.
“Die hof het bevind dat die oorledene, Hans Wessels, op 26 Januarie 2021 in Kleinmond as gevolg van nekbeserings dood gevind is. Die hof het ook verder bevind die volgende goedere is gesteel: ’n Apple i-foon, ’n beursie, ’n wit hemp, ’n pienk kortbroek, blou denim, skoene, ’n silwer Baisha-horlosie en ’n wit Porche Cayenne. Na aanleiding van dié bevindinge is die twee moordenaars tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis,” het Ntabazila gesê. “Vir die moord is hulle tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis en vir die roof met verswarende omstandighede tot 15 jaar.” Die hof het ook bevind die skuldiges is onbevoeg om ’n vuurwapen te besit. . Wessels se lyk is op 27 Januarie 2021 in sy vakansiehuis in Kortstraat, Kleinmond, ontdek nadat die twee in Wessels se Porsche Cayenne buite Laingsburg voorgekeer is. Hulle het die polisie na Wessels se vakansiehuis gelei.