Met die goeie reën wat die afgelope tyd in die Overberg geval het, is dit die “jaar van die clivias”. Oral waar ’n mens gaan, blom clivias en kleur die buurte in die mooiste skakerings van oranje en geel in.

Maar vir ’n inwoner van Onrus het sy mooi clivias vir hom die afgelope twee weke net hartseer gebring. Die inwoner, wat verkies om nie sy naam te laat noem nie, woon die afgelope 14 jaar in Onrus en volgens hom is dit die mooiste wat sy clivias nog was. “Ek het die gewone oranje clivias voor in my tuin en die geel clivias agter. Party het vanjaar dubbele stele, wat dit nog meer besonders maak.”

Maar wat hom die meeste grief, is die feit dat sy clivias nou deur opportunistiese diewe weggedra word. “Ek het die een oggend wakker geword en gesien van my mooiste clivias is gesteel, en die volgende oggend was dit weer dieselfde. Dis so asof die diewe die mooiste blomme steel,” vertel hy. “Ek wil mense graag bewus maak van die feit dat daar nou kwajongens is wat snags plante en veral clivias steel. Ons moet ’n verenigde front daarstel om die nuwe skelmstreek te stop,” het hy gesê.

Volgens hom het hy wel ’n klagte by die Hermanus-polisie aangemeld en hoop dat hulle vinnig vordering sal maak. “ ’n Mens se tuin is jou trots; jy sit baie geld en ure in om dit mooi te laat lyk en dan kom daar mense wat jou passie vir tuinmaak wil blus. Dis onaanvaarbaar.”

Clivia-plante kan vir tussen R50 en R300 gekoop word, afhangende van die grootte en die kleure wat beskikbaar is.

Volgens ’n woordvoerder van die polisie is dit altyd wys om nie by die koop van gesteelde goedere betrokke te raak nie. “As die prys te goed is om waar te wees, kan jy maar seker wees dit is gesteelde goed. Die veiligste is om nie sommer iets by iemand op straat te koop nie. Onthou – dit is ’n misdaad om in die besit van gesteelde goed te wees, al is dit iets soos plante,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.