Dit was ’n dag waar mense met gestremdhede bederf is, ’n heerlike ete is vir hulle voorgesit, plaaslike musiekgroepe het die gaste vermaak en vyf rolstoele is aan begunstigdes uitgedeel.
Die dag, wat op 3 November in die Thusong-saal in Grabouw gehou is, is deur die Theewaterskloof-munisipaliteit gereël en raadslid Denzil Jacobs van Grabouw het ook op die dag ’n eerbewys ontvang toe hy as die ambassadeur vir mense met gestremdhede erken is.
Hermanus Times het al verskeie artikels oor Denzil gepubliseer oor wat met hom gebeur het en die voertuig wat aan hom oorhandig is (7 September 2022, “Ken jou dorp: Denzil Jacobs” en op 21 September “Spesiale voertuig vir gestremde raadslid van Grabouw geskenk”).
Volgens die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Mary Liebenberg, is Denzil nie net ’n kampvegter vir mense met gestremdhede nie, maar ook die mens na wie inwoners met gestremdhede moet gaan as hulle vrae of klagtes het.
Denzil, wat baie dankbaar is vir die eretitel wat hom te beurt geval het, sê daar is steeds baie tekortkominge wanneer dit by toeganklikheid vir mense met gestremdhede kom.
Paaie is nie baie gebruikersvriendelik nie en van die dorpe het nie eens sypaadjies nie, en dit maak dit baie moeilik vir mense wat van rolstoele gebruik maak.
Vervoer is volgens hom ook ’n probleem vir mense met gestremdhede en dis nie net in Grabouw waar dit ’n probleem is nie, maar ook in van die ander dorpe wat deel van die Theewaterskloof-munisipaliteit is.
Volgens Denzil is dit gewis iets waarna die munisipaliteit moet aandag gee.
Die dag het ook die geleentheid vir ander gaste – dié sonder gestremdhede – gegee om te voel hoe dit voel om aan ’n rolstoel gekluister te wees.
Die burgemeester en ander ampsdraers het hul bes probeer om rolstoel-netbal te speel.
Die gaste was dit eens dat dit ’n positiewe dag was wat meer moet gebeur om ander bewus te maak van mense met gestremdhede.