Borskanker is die mees algemene vorm van kanker onder Suid-Afrikaanse vroue en volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se register van 2019 loop een uit 27 vroue die gevaar om borskanker op te doen.
’n Kankerdiagnose boesem dikwels vrees in by mense, en baie mense kan, of wil, nie daaroor praat nie. Tog vind ’n mens deesdae meer gereeld mense wat openlik oor hul ondervinding praat – veral om vir ander kankerlyers ’n boodskap van hoop te bring.
Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand en Hermanus Times het met Liana Swart, ’n prokureur van Caledon, oor haar onlangse reis met borskanker gepraat.
“Borskanker is op 20 Maart 2023 by my gediagnoseer. Wat eintlik ’n uitstappie na ’n winkelsentrum moes wees, het toe half in ’n nagmerrie ontaard,” vertel Liana. “Omdat ek 47 jaar oud was, het ek besluit om vir ’n mammogram te gaan – my heel eerste. Die mammogram het niks buitengewoon gewys nie, maar omdat ek digte borsweefsel het, is ek vir ’n borssonar gestuur en dié het onreëlmatighede uitgewys.
“Ek moes die volgende week gaan vir ’n biopsie, maar ek het steeds nie gedink iets is fout nie. In daardie stadium was ek vir ’n akte-eksamen ingeskryf en dit was letterlik die oggend toe ek daarvoor begin leer dat my dokter my gebel het om te sê die uitslag is nie so goed nie,” sê Liana.
Op ’n vraag oor hoe sy gevoel het toe sy hoor dit is borskanker, antwoord Liana: “Ek dink ’n mens is maar geskok. Ek het dit glad nie verwag nie, want ons het nie ’n familiegeskiedenis van borskanker nie. Ek het ook vir die genetiese toets gegaan en die uitslag was dat dit nie geneties is nie.
“Gewoonlik word ’n behandelingsplan binne ses weke ná diagnose aangebied, maar omdat ek in daardie stadium eksamen geskryf het en besig was by die praktyk, het ek gevra dat hulle net so ’n bietjie moet wag sodat ek my dinge agtermekaar kon kry.
“Ek het gedink dis net ’n knop wat hulle gaan uitsny. Ek het nie verwag dat ek chemoterapie en bestraling moet kry nie. Ek was gelukkig om omtrent geen newe-effekte te hê nie. My lang, blonde hare het wel uitgeval, maar ek was nie baie emosioneel daaroor nie. Ek het nie ’n pruik gedra nie, maar wel mussies,” noem Liana.
“Ek het nie ’n mastektomie ondergaan nie. Die onkoloog het gesê ses maande vroeër sou hulle dit nie kon opmerk nie, en ses maande later sou ek in baie groot moeilikheid gewees het. Die tydsberekening was perfek. Ek het ’n baie groot stuk genade ontvang en glo dit was ’n bestiering van die Here dat dit so moes wees. Ek dink wat ’n mens ook vir jouself sê, is dat indien jy dit nie sou maak nie, dan is dit ook reg so. Ek is ’n realis, dus besef ’n mens dit is ’n moontlikheid dat jy daarvan kan sterf,” sê Liana.
Liana het nie bevraagteken hoekom dit met haar gebeur het nie, maar eerder gevra hoekom nié met haar nie. “Ek is ’n survivor en het geweet ek sal hierdeur kom. My geloof het my definitief hierdeur gedra. Daar is soveel mense vir wie dit heeltemal anders verloop, dus voel ’n mens dalk in ’n sekere sin skuldig dat jy dit oorleef en soveel ander nie.
“Ek het ’n WhatsApp-groepie gestig waar ek almal op hoogte kon hou van wat met my gebeur. Dit was letterlik daai mense wat my staande gehou het; wat vir my gebid het; wat my gedra het,” sê Liana. Sy noem ook dat dit belangrik is om jouself nie af te sonder as so iets met jou gebeur nie, want daar is ander mense wat op dieselfde reis as jy is.
Liana sluit af met: “My leuse was: Every morning you get up, you dress up, but you never give up. My pad hier is nog nie voltooi nie.”