Die gort is behoorlik gaar in die Theewaterskloof-munisipaliteit.
’n Bekgeveg het vroeg in Mei op Facebook tussen lede van die Theewaterskloof-munisipaliteit en inwoners uitgebreek oor die skielike aanstelling van lyfwagte vir sekere lede van die burgemeesterskomitee.
Raadsheer Martie Koegelenberg, ’n lid van die finansiëledienstekomitee, het haar op Facebook uitgespreek en gesê in die tyd toe die DA aan bewind was, het niemand lyfwagte nodig gehad nie. Inwoners het hulle by haar geskaar en gesê dis ’n mors van tyd en belastingbetalers se geld – volgens bewyse is reeds R340 000 aan die veiligheidsmaat-skappy vir die lyfwagte vir twee weke betaal en na bewering is ’n verdere een miljoen rand ook aan hulle betaal.
Saterdag het ’n dagblad bekend gemaak dat lede van die burgemeesterskomitee se lewe in gevaar is en dat hul name na bewering op ’n moordlys verskyn. Die Theewaterskloof-munisipaliteit se burgemeester, Kallie Papier, het bevestig hulle dra kennis van die gerugte en het bepaalde prosesse daargestel om raadslede te beskerm.
Maar dis nie al wat die inwoners van die Theewaterskloof-munisipaliteit laat rooi sien nie. Die Wes-Kaapse regering het ’n skrywe aan die speaker gerig oor beweerde wanbestuur by die TWK.
Van die aantygings wat gemaak is, is dat nege personeellede omstrede deur die koalisie regering aangestel is; die omstrede toekenning van ’n tender aan Agito Minds, wat na bewering nie die goedkoopste tender was nie; en die beweerde viktimisasie van die finansiële adjunkdirekteur van die verskaffingsketting, Francois van der Westhuizen, en Ashley Hendricks, die bestuurder van die verskaffingsketting.
Hermanus Times het ook bewyse bekom dat in daardie stadium van viktimisasie die finansiële hoof, Davy Louw, asook die destydse munisipale bestuurder, Daniël Lubbe ook geskors is. Dié sake van die geskorste lede het na bewering nog nie voorgekom nie en ná maande kry hulle steeds hul volle salarisse. . Ná vele oproepe, e-posse en WhatsApp-boodskappe het die TWK teen druktyd nog nie gereageer op die vrae wat Hermanus Times aan hom gestuur het nie.