’n Inwoner van Gansbaai, wat self in die konstruksiebedryf werk, het besluit genoeg is genoeg nadat sy motor op die R43 beskadig is nadat ’n klip die regterkantse voorlig getref het.
“My vrou was op 2 September op pad na Gansbaai (R43) toe ’n vragmotor voor haar gery en ’n klip opgeskiet het, wat die voorlig beskadig het,” sê Annes van Geems van Gansbaai.
Volgens hom gebruik hy die R43 bykans daagliks omdat hy tans in Gordonsbaai werk.
“Ek ry omtrent elke dag daardie pad en kan getuig dat daar nie net ’n tekort is aan genoegsame padtekens om die padgebruikers teen padwerke en los klippe te waarsku nie, maar dat daar ook ander voertuie is wat skade op die R43 gely het.”
Hy het inwoners op Facebook gevra om hul mening te lug oor hoe hulle voel oor die konstruksie en of hulle al skade met los klippe op die R43 gehad het.
“Ek was verstom . . . Daar is verskeie bejaardes wat gereeld die pad gebruik en van hulle, sowel as ander inwoners, se motors is ook erg beskadig,” vertel hy.
“Wat my nog meer grief, is die feit dat baie inwoners nie versekering het om hul voertuie te laat herstel nie en dat die konstruksiemaatskappy net die skouers optrek.”
Hy het nie die saak net hier gelaat nie en ’n e-pos aan die konstruksiemaatskappy oor die skade aan sy voertuig gestuur.
“Ek het die e-pos in September aan hulle gestuur en vir drie maande geen terugvoer gekry nie. Hulle [ander inwoners] het ook ’n versoek aan die konstruksiemaatskappy gerig om hulle oor die aangeleentheid te kontak, maar sonder enige sukses.”
Hy het weer ’n brief aan hulle gerig waarin hy hulle daarvan bewus gemaak het dat hy verskeie kere die saak onder hul aandag gebring het, sonder enige sukses.
“Ek het ook aan hulle genoem dat ek op sosiale media verneem het van nog motors wat weens die padwerke tussen Gansbaai en Stanford beskadig is. My vrou het ’n onderwyser teëgekom wie se bakkie se voorruit en ligte beskadig is, en ’n ander Facebook-gebruiker het genoem dat sy broer in ’n ongeluk betrokke was weens die klippe in die pad,” sê Van Geems.
Ná die brief het hy wel terugvoering van die konstruksiemaatskappy se versekeringsagentskap gekry wat sy eis afgekeur het. Volgens hom is die verweer dat daar genoeg padtekens op die pad is wat jou waarsku van die spoedbeperking, die los klippe op die pad asook dat daar padwerke is.
“Ek het drie video’s van die R43 gemaak en in die video’s is daar geen padtekens wat jou waarsku teen die los klippe nie. Net ná die De Kelders-afdraai is daar wel ’n padteken – ‘Trucks Turning’ – en aan die teenoorgestelde kant ’n bordjie wat jou waarsku dat jy 80 km/h moet ry,” sê hy.
Vir Van Geems het hierdie nagmerrieverhaal darem ’n goeie einde gehad nadat hy e-posse aan die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gestuur het.
“Ek is baie bly om te sê die premier het laat weet dat hulle vir my skade sal betaal, maar ek is bekommerd oor al die ander wat nie versekering kan bekostig nie,” sê hy.