Raka Wyne buite Stanford se wynmaker nou finalis in Wynmaker van die jaar-kompetisie

Josef Dreyer, wynmaker van Raka Wyne buite Stanford, is as finalis van die Dinersclub SA se wynmaker van die jaar aangewys vir die Raka Biography Shiraz 2020.


Hy is deel van die terroir en word soos goeie rooiwyn net beter en beter hoe langer hy die grond onder sy voete en die wingerdstokkies onder sy hande voel.

En dié jaar is Josef Dreyer, die wynmaker van Raka Wyne buite Stanford, vir sy passie, harde werk en liefde bekroon toe hy as een van die finaliste van die Dinersclub SA se wynmaker van die jaar vir die Raka Biography Shiraz 2020 aangewys is.

Namate Josef op die plaas grootgeword het, het sy liefde en belangstelling in wyne en die produksie daarvan ook gegroei. “Toe my ouers die plaas ontwikkel en Raka begin het, was ek maar 16 jaar oud, en op daardie ouderdom is alkohol baie aanloklik,” skerts hy. “My oupa het altyd vertel van my oupagrootjie Pieter Dreyer wat by Perdeberg-kelder wyn gemaak het. Dus is wynmaak in my bloed.”

Hy dink met heimwee terug na sy grootwordjare en vertel hy is ’n Overberger in murg en been. “Ek is in die Hermanus-hospitaal gebore, en om op ’n plaas groot te word, het baie herinneringe wat as die bestes kan kwalifiseer. Ons het met sitrus geboer, sitrus geëet en sitrus gesmous, maar later wingerd geplant, motorfiets en perd gery en in die dam geswem – alles herinneringe wat ek vir niks in die wêreld sal wil verruil nie.”

Sy pa, Piet, het ’n groot rol in sy lewe vervul en hy sê alles wat sy pa aanpak, maak hy ’n sukses van. “Daar is min dinge wat hy nie kan laat werk nie, en dit is groot motivering vir enigiets wat ek aanpak.”

As jy hom uitvra oor sy passies en ander stokperdjies, antwoord hy: “Wyn, wyn en nogmaals wyn . . .”

“Die lekker ding van wynmaak, is dat jy elke jaar met ander bestanddele werk. Die gehalte van die druiwe word bestuur om goed te wees, maar dis dalk droër, of natter, koeler of warmer, wat die samestelling van die druiwe beïnvloed, en dan moet ek die praktyke in die kelder aanpas. Selfs op ’n daaglikse basis is daar ’n verskeidenheid aktiwiteite wat ons doen, dus is niks herhalend nie. Waar kunstenaars hul werk kan sien, kan ons ons effort proe.”

By Raka probeer hulle nie net elke jaar die beste wyne bottel nie, maar dit ook bekostigbaar hou. “So was daar al oesjare van ons bekroonde wyne wat ons nie gebottel het nie, want ons poog rêrig om ons wyn vir almal daar te stel. Ons produseer ’n groot hoeveelheid wyn van uitstaande gehalte en kry baie goeie terugvoer – nie net van ons klante nie, maar ook van die beoordelaars van verskeie kompetisies,” vertel hy.

Volgens Josef is hulle geseën om in die vallei langs die Kleinrivier te boer. “Die verskeidenheid grondsoorte en hellings dra by tot die unieke boublokke vir die verskillende wynkultivars. Ons is bederf met voldoende sonskyn en hoë middagtemperature, en dan koel winde in die laatmiddag en lae nagtemperature, wat die gehalte van die rooi druiwe ondersteun, en dan gooi jy die wonderlike span saam waarmee ek werk, en jy het ’n wenkombinasie soos ’n goeie shiraz . . .”

Sy optimisme is tasbaar en hy glo as jy iets positief aanpak, is dit al half gewen. “As iets nie uitwerk nie, groet dit en sluit dit af – soos die Penquins of Madagascar altyd sê: ‘Smile and wave . . .’ ”

You need to be Logged In to leave a comment.