In 2023 het hy nog op die skoolbanke van die Hoërskool Overberg gesit, maar skaars ses maande later, op 12 Junie vanjaar, het Reenan Hendricks (19) sy eerste solovlug uitgevoer en sodoende sy eerste balkie van die vliegskool waar hy ’n student was, verwerf.
Reenan het al van jongs af in vlieg belanggestel en het reeds in graad 10 in Swellendam begin vlieglesse neem. Hy het gevoel dit maak inbreuk op sy skoolwerk en het besluit om dit eerder te los totdat hy klaar is met skool.
Reenan het op 5 Februarie as student by die Flight Training College in George begin om sy droom te verwesentlik.
Hy is ’n vasbeslote jong man wat nie maklik opgee nie. Hy het aan Hermanus Times genoem dat hy in graad nege ’n probleem met rekeningkunde gehad en gewonder het of hy halfpad deur die skooljaar ’n ander vak moet kies. Hy het nie. Hy het aangehou en homself uitgedaag en homself gevra: “Waar begin my vermoë en waar eindig dit?” Sy ander vakkeuses soos wiskunde en fisiese wetenskap het hom goed te staan gekom en baie gehelp tydens sy studies waar hulle momentum, versnelling ensovoorts moet bereken.
“Die eerste twee maande is dit net ground school met lesings. Daarna moet jy op jou eie studeer en kom jy net in om jou praktiese vlugte saam met ’n instrukteur te doen,” sê Reenan.
“Die eerste vlugte met ’n instrukteur langs jou was maklik, totdat die instrukteur eendag ná nog ’n landing vir jou sê om nou self op te styg en ná ’n rondte om die aanloopbaan ook self te land.
“Dit was nie ’n baie aangename ondervinding nie, want jy is onder soveel druk en is só gespanne. Die landing was moeilik, want ek het ’n bietjie te hard geland en die vliegtuig het ’n bietjie op die aanloopbaan gehop,” sê Reenan.
Reenan sê daarna het dit sommer baie beter gegaan totdat hy uiteindelik sy eerste solovlug moes doen. “Ek is nie vooraf daarvan ingelig nie. Die hoofinstrukteur het my getoets om te kyk hoe voorbereid ek is, en daarna gesê ek moet nou alleen vlieg,” noem Reenan.
“Ons is heeltyd in radiokontak met die beheertoring, maar toe ek wag om op te styg, het ek die druk begin voel. Ons doen net een circuit en dan moet ons land. Ek het net gedink nou moet ek dié ding op die grond kry dat hy net egalig uitrol. Gelukkig het ek ’n perfekte landing uitgevoer,” sê Reenan.
“Toe ek na die loods getaxi het, het ek gesien al die mense van die skool staan buite en hande klap.
“Die mooiste ding wat ek regtig bewonder van hulle is dat wanneer jy opgestyg het en jy kom land, is jy nie meer ’n gewone student nie. Jy is nou ’n silver student, wat ook beteken jy mag nie aan die grond raak nie.
“Ek moes my skoene uittrek, op iemand se rug klim, en dié persoon het my na ’n buitebad geneem en daarin gedompel.
“Dit was winter, die water was yskoud en vuil en dan gooi hulle verder nog emmers water oor jou uit. Maar toe ek uitklim het hulle my met my eerste balkie vir ’n solovlug beloon,” sê Reenan.
Hy noem dat dié ritueel iets uniek is, want ná ’n mens se eerste solovlug is jy net eenvoudig nie meer dieselfde nie.
Nadat hy al sy vakke klaar geskryf het, en met ’n gemiddelde van 94% geslaag het, al sy praktiese vlugte gedoen het en oor die hele jaar se kennis getoets is, het Reenan sy lisensie as private vlieënier verwerf en spog nou met twee balkies op sy hemp.
“Die waardering vir wat my ouers, Romeo en Antoinette, vir my gedoen het, kom diep uit my hart. Sonder hul ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het nie,” erken Reenan.
Reenan se pa, Romeo, ’n senior superintendent van die TWK se verkeersbedrywighede, sê: “Ons as familie is supertrots om te kan sien dat ’n boorling van Caledon sy doelwitte bereik het. Hy het homself ook bewys deur sy goeie akademiese prestasie. The sky is the limit.”
’n Kwalifikasie as kommersiële vlieënier is Reenan se volgende mikpunt en hy het reeds met sy studies daarvoor begin.