Die Mispah-skool vir leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes (LSEN) is geleë in die geskiedkundige sendingdorpie Elim (in die Kaap Agulhas- munisipale distrik) wat vanjaar sy 200ste bestaansjaar vier.
Dié skool is die opvoedkundige tuiste van byna 120 leerders van oor die provinsie heen.
Die koshuis verbonde aan die skool huisves ongeveer 110 leerders tussen 10 en 18 jaar, terwyl die ander van omliggende gebiede na en van die skool reis.
Hermanus Times beoog om vanjaar vir Mandeladag, wat op Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, se verjaardag gevier word, ’n spesiale projek by die skool en sy koshuis van stapel te stuur.
Mandeladag, ook bekend as Madibadag, word elke jaar op 18 Julie gevier om die voormalige president se lewe en nalatenskap te vier.
Die doel van hierdie dag is vir individue, sakeondernemings en organisasies om aksies bekend te stel of betrokke te raak by projekte wat daarop gemik is om ’n verskil in die lewe van minderbevoorregtes te maak.
Met die oog hierop en aangesien die welstand van kinders ons baie na aan die hart lê, het die Hermanus Times-span besluit om Mispah-skool op 18 Julie te besoek om hulp met projekte te verleen, broodnodige artikels aan die skool te skenk en die kinders se harte te verbly.
“Dit is vir ons belangrik om terug te gee aan die gemeenskap. Ons is die spreekbuis van die gemeenskap en dra hul belange op die hart. Aangesien ons die stem van die hele Overberg is, is Elim een van daardie ‘skatte’ wat ons graag wil ophef,” het Mariëtte Strydom, die redakteur van Hermanus Times, gesê.
Abie Adams, die skoolhoof, het verduidelik aangesien die meeste van hul leerders in die koshuis woon, het hulle ’n dringende behoefte aan beddegoed – lakens, komberse, duvets, kussingslope – sowel as toiletware, waaronder tandepasta, tandeborsels, waslappe en handdoeke.
Die koshuis se binnehof, het Adams verduidelik, moet geverf word aangesien die verf wat daar is, begin afdop.
“Wat die skool betref, sal skryfbehoeftes – waaronder potlode en penne – welkom wees. Ons leerders benodig ook maroen skooltruie, skoolskoene en warm baadjies. Daar is ook altyd ’n behoefte aan nie-bederfbare kos soos rys, kookolie, suiker, koffie, tee en meel,” sê Adams.
Skenkings van groentesaad en -plante (kool, blomkool, pampoen, boontjies) is ook welkom aangesien die skool en koshuis ’n eie groentetuin het waar die leerders meer van tuinbou leer.
Enigeen wat ’n skenking van niebederfbare kos, toiletware, skoolklere, skryfbehoeftes en/of beddegoed wil gee, kan dit by die Hermanus Times se kantoor by Hoofweg 34, Birkenhead-kompleks, Hermanus, aflewer, of die kantoor by 028 312 3717 kontak vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak.