Die Batebeslagleggingseenheid (AFU) het al die rekeninge van Hendrik “Hennie” Ritter, wat na bewering miljoene rande van sy werkgewers gesteel het, bevries.
Ritter, voormalige finansiële bestuurder by Gansbaai Marine, is aanvanklik as vermis aangemeld, maar ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik nadat ’n saak van bedrog teen hom aangemeld is.
Lt.kol. Winston Coetzee, die Gansbaai-polisie se bevelvoerder, het bevestig dat Ritter reeds Maandag 7 Maart as vermis aangemeld is nadat hy nie teruggekeer het huis toe nie.
Ritter is volgens bronne op dié dag, na afloop van ’n interne tugverhoor by Gansbaai Marine, waar hy langer as 30 jaar gewerk het, afgedank. Die verhoor het gegaan oor geld wat uit die maatskappy se rekening vermis is. Bronne beweer die bedrag geld, wat volgens berigte in Ritter se eie rekeninge oorgeplaas is, beloop meer as R10 miljoen.
Volgens Coetzee het Gansbaai Marine die volgende dag (Dinsdag 8 Maart) ’n klagte van bedrog aangemeld.
“Hulle het beweer dat Hendrik Ritter, wat die maatskappy se finansiële bestuurder was, miljoene rande van die maatskappy se geld verduister het.”
Coetzee het ook bevestig dat ’n aansoek voor die batebeslagleggingseenheid gebring is om al Ritter se rekeninge te bevries.
Na aanleiding van die bedrogklag is Ritter deur die polisie as “gesoek” verklaar en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Verskeie koerante, waaronder Die Burger, het berig oor die finansiële bestuurder van Gansbaai wat deur die polisie in verband met bedrog van meer as R10 miljoen gesoek is.
Die voertuig waarin Ritter gevlug het, is volgens die polisie by die George-lughawe opgespoor. Ritter het vermoedelik daar ’n ander motor gehuur, wat hy later by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gelaat het.
Sy lyk is Sondag 13 Maart in ’n hotel, ongeveer 8 km van die lughawe af, gekry.
Volgens Coetzee ondersoek die Boksburg-Noord-polisie die omstandighede rakende Ritter se dood. Hy het homself na bewering geskiet.
Volgens Ritter se Linkedin-profiel het hy altesaam 31 jaar en drie maande by Gansbaai Marine gewerk. Hy het volgens sy profiel in Januarie 1991 as assistent-pakhuisbestuurder by die maatskappy begin werk en is nege jaar later (Januarie 2000) as rekenmeester aangestel. Hy is in Februarie 2017 as finansiële bestuurder van die maatskappy aangestel.
Ritter was deur die jare ook as vrywilliger by verskeie organisasies betrokke en het onder andere as die finansiële direkteur, tesourier en voorsitter by talle plaaslike organisasies gedien.
Volgens een inwoner is Ritter oor die algemeen as ’n “goeie mens” gesien en het almal aangeneem dat sy finansiële suksesse die resultaat van goeie beleggings was.
André Coetzee, besturende direkteur van Gansbaai Marine, het by navraag gesê hy wil nie kommentaar lewer voordat die ondersoek afgehandel is nie.
“Ons wil ook Ritter se familie kans gee om te rou,” het hy bygevoeg.