Gaan hy of gaan hy nie? Dit was die vraag op baie Caledon-inwoners se lippe nadat Renco Theunissen (35) aangekondig het dat hy nie weer hierdie seisoen klubrugby gaan speel nie. Baie mense het genoem dat Renco al dikwels in die verlede gesê het hy gaan ophou, maar wanneer die seisoen begin, speel hy maar weer.
Hermanus Times het met Renco gesels, en ja, ná 17 jaar van klubrugby by die Caledon-rugbyklub het Renco finaal sy rugbystewels opgehang.
“Ek het seker vir omtrent vier jaar gesê ek gaan ophou, maar as ek weer sien, is ek daar en speel weer, maar dié keer is dit finaal.”
Renco kom uit ’n rugbyfamilie.
“My eerste herinnering van rugby is toe my pa, Randall, kaptein van die destydse Caledonians se eerste span was en ek altyd saam na oefeninge gegaan het,” sê Renco.
Gebore en getoë in Caledon het Renco al op laerskool aan Swartberg Primêr begin rugby speel en daarna vir Swartberg Sekondêr. Op 17 het hy vir die eerste keer die nommer-twee-trui van Caledon-rugbyklub aangetrek en as haker vir die tweede span gespeel.
“Destyds, as jy nog nie 18 was nie, moes jou ouers ’n vrywaringsvorm teken sodat jy vir die klub kon speel. Ek het letterlik die oggend vir die skool se eerste span gespeel en die middag vir die klub se tweede span,” vertel Renco.
Nadat hy sy skouer en sleutelbeen in ’n vriendskaplike wedstryd in 2014 gebreek het, het Renco besluit om nie meer vriendskaplike wedstryde te speel nie, hoewel hy nog altyd saam met die span geoefen het.
“In 2023 het ek besluit ek gaan my laaste vriendskaplike wedstryd teen Robertson Town speel en toe eindig ek op met harsingskudding,” sê Renco.
‘ek het besef dis nou tyd’
Sy eerste wedstryd vir Caledon se eerste span in Stanford sal Renco nooit vergeet nie.
“Ek het in die tweede span gespeel en seker so vyf minute in die game in, toe sub hulle my. Ek was geïrriteerd en het gewonder hoekom hulle my afhaal. Die afrigter en die kaptein van die eerste span het aan my gesê al twee hakers van die eerste span is nie beskikbaar nie en ek moet vir die eerste span gaan uitdraf.”
Renco lag lekker en vertel hy het aan hulle gesê hulle moet net so ’n bietjie wag, want hy wil eers vir sy pa vra of dit in orde is dat hy vir die eerste span speel.
“Daardie tyd het ek geen ideaal gehad om vir die eerste span te speel nie. Ek was regtig bang, want dit was gróót manne wat maklik vuis geslaan het. Daar was toe mos nog nie video’s waar jy ná die tyd kon kyk wie baklei het nie. Maar toe score ek ’n hat trick en druk drie drieë in die tweede helfte.”
Oor sy besluit om uit te tree, sê Renco: “Ek het verlede jaar by die laaste paar wedstryde en oefeninge vir die top-12 agtergekom my liggaam speel nie meer saam nie. Tydens oefeninge het ek gesukkel om in te gooi tot waar ek wil, iets wat ek voorheen met gemak gedoen het. In die laaste wedstryd het my liggaam al gedurende die wedstryd begin seer word, iets wat nie voorheen gebeur het nie. Dit het gevoel asof ek nog nie van die vorige wedstryd herstel het nie. Dis toe dat ek besef het dit is nou tyd om uit te tree.”
‘ons is bewaarders van die rugbytrui’
“Ek wou op ’n goeie noot eindig. Ongelukkig onthou mense dikwels net jou swak spel, maar ek hoop hulle onthou dat ek darem nou en dan ook goed gespeel het. Op die ou einde is ons maar net care takers [bewaarders] van daardie rugbytrui. Daar is baie ouens voor my wat beter gespeel het as ek en daar gaan nog baie beter spelers ná my ook wees.”
Volgens hom het Caledon-klub ook baie getroue ondersteuners.
“Vir baie mense is die rugbywedstryde die hoogtepunt van hul week. Daar is mos maar tye wat die span dalk nie op sy beste is nie, maar dit maak dit nie beter as jou eie mense jou uitjou en skel nie. Ek wil hê die mense moet die klub en die spelers 100% ondersteun in die goeie sowel as die slegte tye.”
Renco dien ook in die rugbyklub se bestuur. Sy ervaring as konsultant in sy eie maatskappy kom hom goed te staan in sy pos as tesourier.
Renco het ’n baie positiewe uitkyk op die lewe. Die feit dat hy hakkel keer hom geensins om gereeld as seremoniemeester by byeenkomste en feeste op te tree nie.
“Op skool was ek die enigste kind tussen 1 100 wat gehakkel het. Ja, ek is by tye daaroor geboelie, maar ek het dan altyd ’n grap daarvan gemaak en dan het ek nie geweet of die mense vir die grap of vir my gehakkel lag nie. Ek lewer ook dikwels motiveringspraatjies by skole om gestremdhede soos hakkel aan leerders te verduidelik. Ek sê altyd: ‘Luister na wat ek sê, nie hoe ek dit sê nie’.”
Renco doen ook bewusmaking op TikTok waar hy meer as 13 000 volgelinge het.
In sy vrye tyd speel Renco graag gholf en rolbal. “Ek het ook krieket gespeel, en eintlik dink ek dat ek ’n beter krieketspeler as rugbyspeler is, maar vroeër was daar nie so ’n krieketklub soos nou nie, toe kies ek maar rugby,” sê Renco.
As bemoediging aan almal, en veral kinders, wat aan sport deelneem, sê Renco: “Oefen asof jy nog nooit gewen het nie en speel asof jy nog nooit verloor het nie.”. Die vier toprugbyspanne in die Overberg, Safcol, Caledon, Hawston en Botrivier gaan op 22 Februarie weer aan die Overberg Challenge deelneem.
Dis die derde jaar wat die rugbygeleentheid by Caledon-rugbyklub gaan plaasvind en die verdedigende kampioen, Safcol, is gereed vir die wedstryd.
Daar is groot prysgeld op die spel en die wenspan kan met R40 000 wegloop terwyl die naaswenners R10 000 kry. Om 10:00 pak Caledon en Botrivier mekaar terwyl Safcol en Hawston mekaar om 11:30 die stryd gaan aansê.
Daarna speel Hawston Sekondêr teen Swartberg Sekondêr en om 13:30 speel Bishop Lavis teen Berea. Die eindstryd vind om 16:10 plaas.