Sy is geliefd onder baie. Waar sy gaan, maak sy ’n verskil – of dit nou in die gemeenskap is of vriende se gemoed; as jy René Hartslief aan jou kant het, dan weet jy dinge gebeur.
René was die afgelope tyd betrokke by die restourasie van die walvis op die Markplein. Saam met Tertius van Dyk en Patrick Anele het hulle nuwe lewe aan die Suidelike Noordkapper gegee. Maar waar kom haar belangstelling in haar gemeenskap vandaan?
“Ek is iemand wat daarvan hou om ’n positiewe rol in die gemeenskap te vervul en glo dat elke klein bietjie ekstra moeite wat jy in jou gemeenskap doen, mettertyd iets groots kan word. Hermanus lê my na aan die hart en ek wil graag die gemeenskap bevoordeel,” vertel sy.
Dié 64-jarige woon al die afgelope ses jaar in Hermanus en sal hierdie pragtige kusdorp vir niks verruil nie. Haar merkwaardige CV sal menige inwoner na hul asem laat snak. Sy was die uitgewer van verskeie reis- en toerismeprodukte, is ’n merkwaardige fotograaf, bemarker en geleentheidsbeplanner en selfs ’n rolprentvervaardiger.
“Ek het nie net by die Republikeinse Pers gewerk nie; ek was die uitgewer, redakteur en eienaar van The Best of KZN & Beyond, The Best of Ehlanzeni, The Best of SA & Beyond, National Bride, Food & Beverage Guide, Zambia Review of Commerce, Trade, Industry & Tourism en Tanzania Review of Commerce, Trade, Industry & Tourism,” vertel sy trots.
Sy is ook betrokke by die reël van verskeie feeste in en rondom Hermanus –die suksesvolle Duitse fees wat in 2019 aangebied was en die Hermanus-fees van verlede jaar wat op kykNET uitgesaai is, getuig van haar vermoë om van feeste en geleenthede ’n sukses te maak.
Verder is sy ook ’n graderingsbeampte en het tot 2015 by die Suid-Afrikaanse toerismegraderingsraad gewerk.
“Ek is ook ’n sportfanatikus en het op skool enigiets van muurbal en sagtebal tot hokkie gespeel,” vertel sy.
Volgens René is dit ook een van die redes waarom sy so baie van Hermanus hou, want hier is iets vir almal om te doen – of jy ’n natuurliefhebber is, of iemand is wat van sport hou.
René se passie vir die lewe weerspieël in al die projekte wat sy aanpak.
Nie net is sy uitstekend in beplanning en organisering nie, maar sy werk uitstekend onder druk, is positief en entoesiasties oor enige projek wat sy aanpak en sy lê baie klem op die fynste detail.
En, soos sy dit stel, het sy ’n kleintjie dood aan onregverdigheid.
Sy vertel opgewonde dat sy nog baie idees het om toeriste na Hermanus te lok, maar sy wil nie nou reeds die aap uit die mou laat nie.
“Hermanus en sy mense is uniek en om deel van die gemeenskap te wees, is iets wat die inwoners nie as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Ons woon in die mooiste gedeelte van die wêreld, en dit is vir my ’n plesier om Hermanus my ‘tuiste’ te noem.”. Inwoners is gevra om ’n naam vir die Suidelike noordkapper op die Markplein te gee. Almal was dit eens dat dié walvis Wendy moet heet.
Volgens oorlewering was Wendy ’n alleenlopende walvis wat in die jare dertigs in Hermanus uitgespoel het.
Omtrent die hele dorp het destyds byeengekom om haar weer in die see te kry. Wendy het jaar ná jaar na Hermanus teruggekeer en sy is as deel van die gemeenskap gesien.