Die SA interdistrikte rolbaltoernooi het vanaf 7-11 Maart onderskeidelik in Pretoria, Pietermaritzburg en Oos-Londen plaasgevind. Boland se ope vrouespan het met goud weggestap terwyl die veterane vrouespan die bronsmedalje verower het. Boland is sterk verteenwoordig deur Overberg-spelers: Altesaam vyf van die ope vrouespan se spelers sowel as die spanbestuurder was van die Overberg en in die veterane vrouespan was ses Overberg-spelers. Die ope manspan, veterane en mans- en vroue se B-spanne het ook baie goed gevaar tydens die toernooi met ook sterk verteenwoordiging vanuit die Overberg. Baie geluk aan al die spelers vanuit die Overberg wat hulle uitstekend van hul taak gekwyt het. Die Overberg- en Boland-streke kan voorwaar trots wees op hul spelers. Boland-distrik eindig algeheel vyfde uit 20 spanne.