Die oop stuk grond langs die ou taverne in Caledon was ’n regte rommelhoop, maar nou, slegs twee jaar later, is die einste rommelhoop in ’n pragtige gemeenskapstuin omtower.
Du-Wayne Brikkels het die tuin begin (HermanusTimes 22 Maart 2023: “Sypaadjietuine kry groot aftrek”), maar deesdae is dit die Bergsig Garden Boys wat bestaan uit Elgardo Alexander, Ashwell Page en Micheala Coert, wat die tuin versorg. Page sê aan Hermanus Times: “Ons doen hierdie nie net vir onsself nie, maar ook vir die gemeenskap om vir hulle te wys ’n mens kan uit iets wat ’n rommelhoop was, iets moois maak.”
Die oudonderwyser Stephen Wildschut is ’n vurige voorstander van sypaadjieverfraaiing – nie net om rommelstrooiery te bekamp nie, maar ook om ’n sin van trots in die gemeenskap te kweek. (Hermanus Times 8 Maart 2023: “Sypaadjies kry nuwe lewe”). Wildschut se passie het nie ongesiens verbygegaan nie, en hy is onlangs tydens die plant van spekbome in die gemeenskap deur die Kaapse Forum as een van hul Kaapse kampioene aangewys.
Nie net het die Kaapse Forum onlangs pragtige T-hemde met die leuse “Peace begins in the garden” asook harke vir die Bergsig Garden Boys en Wildschut geborg nie, maar ook ’n besoek aan die Harold Porter-botaniese tuin in Bettysbaai.
“Dit was ’n wonderlike belewenis,” sê Wildschut oor die besoek. “Die gids het ons eerste na die Khoi-San-kruietuin geneem, waar hy al die verskillende kruie se name aan ons genoem het, asook verduidelik het waarvoor dit gebruik kan word. Die drie jongmense het tot bo by die waterval gestap en baie foto’s van al die pragtige plante geneem.”
Wildschut sê Caledon- inwoners skenk dikwels aan hom plante vir tuinprojekte. Indien iemand belangstel om plante te skenk, bel Wildschut by 063 324 2723.